Steeds geen antwoorde vir gesin

Sy was net 13 jaar oud en haar twee sussies, sewe en vier jaar, toe hul ma se liggaam sewe jaar gelede naby die huis in Sherwood Park gevind is.


Sy was net 13 jaar oud en haar twee sussies, sewe en vier jaar, toe hul ma se liggaam sewe jaar gelede naby die huis in Sherwood Park gevind is.

Die 20-jarige Caryn-Leigh Wagner en haar ouma Levona Wagner (68), soek steeds geregtigheid vir dit wat met die tóé 33-jarige Liezel Wagner gebeur het.

Wagner, wat destyds 13 weke swanger was, is die Saterdagaand 25 Augustus 2012 met ’n wit bakkie by die huis in Bonastraat opgelaai, vertel Levona. Haar halfnaakte liggaam is egter vyf dae later net 50 m van hul huis in Sherwood Park gevind.

“Ons weet sy is nie dáár vermoor nie, want skoolkinders het vroeër die oggend daar geloop toe was daar geen liggaam nie. Haar liggaam is dáár gestort,” vertel Caryn-Leigh emosioneel.

Volgens Caryn-Leigh is haar ma se dood steeds ’n verskriklike emosionele saak vir die familie – veral omdat die polisie ná sewe jaar nog niemand met die saak kan verbind. “Êrens hier in ons midde loop ’n moordenaar rond wat ons ma wreed van ons weggeneem het.

“Ek kan die hartseer en verlange in my susters se oë sien en daarom wil ons net berusting kry. Die moordenaar moet boet vir sy dade,” meen sy.

“Die plaaslike polisie het verskeie mense ondervra, maar niemand is in die sewe jaar aangekla nie. Die ondersoekbeampte het aan ons gesê die dossier is tans by die openbare vervolgingsgesag vir ’n besluit,” vertel sy.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die openbare vervolgingsgesag, is die dossier nog steeds by hulle en sal ’n beslissing binnekort gemaak word om te bepaal of iemand wel vervolg sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.