“Die stelsel vir besprekings by Silwerstroomstrand-oord moet verander.”
Só meen die inwoners van Atlantis nadat besprekings vir die Paasnaweek verlede week geopen het en talle inwoners buite die Stad Kaapstad se parke- en rekreasiekantoor in Gothenburgstraat vir besprekings saamgedrom het.
Die Atlantis-kantoor doen slegs telefoniese besprekings en dit is waar die probleem glo inkom. Inwoners beweer telefoonlyne bly besig en wanneer hulle wel deurkom, is die plek reeds vol.
Volgens een inwoner, Sharron Werth, kamp sy byna elke maand by dié oord, maar Paasfees en Kersseisoen is taboe vir haar en haar familie omdat hulle nooit kampeerplek kry nie.
Werth is een van die baie kampeerders wat sonder sukses probeer bespreek het. “Waarom kan mense nie op die dag in ’n ry kom staan en op ’n first-come-first-serve-grondslag gehelp word nie,” vra Werth.
Rodger Richards sê hy probeer ook ’n kampeerplek kry, maar dit is hom nie beskore nie. Hy vertel verlede jaar het hy ook vir die Kersseisoen probeer plek kry, maar dit was ook tevergeefs. Richards was ook deur amptenare meegedeel dat die kampeerplekke volbespreek is, maar volgens Richards was hy omtrent elke dag van die vakansie by die oord en daar was steeds plek beskikbaar.
Cynthia Clayton, ’n raadslid, het Weskus Nuus genooi om self te kom ondersoek instel om te kyk of daar vooraf plekke bespreek word soos van die inwoners beweer.
Clayton het by ’n vergadering met ongelukkige in-woners erken die stelsel moet hersien word en het beklemtoon dat daar nie voorkeur aan sekeres gegee word nie. Sy het inwoners wat die beweringe maak gemaan om met bewyse vorendag te kom sodat daar teen die betrokke amptenare opgetree kan word.
“Die Stad het ook ’n beleid dat inwoners wat se munisipale dienste agterstallig is, nie ’n bespreking gaan kry by munisipale oorde nie. Daar moet ten minste ’n reëling met die Stad getref word,” sê sy. Magaret Adonis wou egter weet hoekom moet kinders gestraf word oor hul ouers se skuld. Clayton sê egter die volk gaan ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan kennis. Sy het aan die inwoners belowe dat ’n opvolgvergadering gehou sal word waar sy terugvoering sal gee.