Die jaarlikse straatpartytjie vir die inwoners in Waterloostraat, Uitbreiding 13 het Kersdag in ’n tragedie geëindig nadat ’n tref-en-trap-ongeluk een vrou dood en ’n ander een ernstig beseer gelaat het.
Die oorledene, Valencia Titus (44), het glo onder die wiel van die voertuig beland.
“Ons het die dansende kinders dopgehou toe die motor teen ’n stinkspoed in die pad afgery kom. Ek het my vrou deur die lug sien slinger en bo-op die motor sien val waarna sy onder die wiele beland het,” vertel Michael Titus, die oorledene se man.
“Die bestuurder het steeds aangery met my vrou onder die wiele en het byna vir nog ’n tragedie gesorg toe hy op mense afpeil wat rustig voor hulle deur gesit en kuier het,” vertel die emosionele pa van vier.
Titus sê hy is net dankbaar dat die kinders betyds uit die pad gespring het anders kon dit soveel erger gewees het.
“Die Here weet alleen, maar enkele meters van die mense af het hy beheer oor die motor verloor en in die muur voor ’n huis vasgeploeg,” vertel Titus verder.
Met Weskus Nuus se besoek het verslae familielede en bure gesit en treur.
Familielede het gesê hulle is geskok dat haar minderjarige kinders moes aanskou hoe hulle ma sterf.
Volgens Vincent Simpson, een van die bure wat die gebeure aanskou het, het hulle almal agter die kar aan gehardloop. “Die bestuurder wou nog die motor weg van die muur trek en wegry terwyl die oorledene tussen die wiele vasgesit het. Ek het sy sleutel uitgeruk. Die man kon skaars op sy voete staan,” onthou Simpson.
Die inwoners van die straat het op hom toegesak en hom “goed pak gegee.”
Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, is die 56-jarige verdagte na die hospitaal geneem waar hy onder polisiebewaking vir kopbeserings behandel is.
Die bestuurder, glo ook ’n inwoner van die straat, was saam met sy twee seuns in die motor toe die ongeluk gebeur het. Die verdagte het intussen in die plaaslike hof verskyn op aanklag van strafbare manslag, dronkbestuur en roekelose en of nalatige bestuur en is uit op borgtog.