“Ek weet dit voel soms of jy nie kan aangaan nie, maar dis juis dan wat jy op jou knieë moet gaan en vir God vra om jou krag te gee.”
Só het Allison Matroos, Saterdag by die bekendstelling van haar eerste dig- en kortverhaalbundel gesê.
“Glo in jouself en moenie dat iemand vir jou vertel dat jy ’n nikswerd is nie, want jy is ’n juweel in God se oë,” het sy verder geïnspireer.
Matroos het die afgelope Saterdag haar eerste dig- en kortverhaalbundel by OpieKoffie bekend gestel.
Volgens Matroos, wat in Island Place woon, het die huidige bendebedrywighede in Atlantis ’n groot invloed op haar skryfwerk gehad.
Sy het haarself tot haar skryfwerk gewend om van al die geweld te ontvlug. Sy vertel trots dat die stories in die bundel alledaagse kwessies soos tienerswangerskappe, dwelmmisbruik, aborsies en verkragting aanspreek, terwyl die tema van sommige van haar gedigte verlies is – liefde en seer wanneer ’n mens ’n geliefde verloor.
“My gedigte handel ook oor my liefde vir die Afrikaanse taal en my passie vir skryf,” vertel sy.
“Ek het ook besef dat daar baie jongmense daar buite is wat skryf, maar wat te min selfvertroue het. In my agterkop het ek gehoop dat my bundel hulle sal laat besef dat hulle drome ook bewaar kan word.”
Die tweedejaar taal- en kultuurstudent aan die Universiteit Stellenbosch sê dat sy tans besig is met ’n boek en hoop om dit binne die volgende twee jaar te voltooi. Malherbe-uitgewers, ’n uitgewersmaatskappy in Pretoria het die bundel gedruk.