Wessie van der Westhuizen, die subraad 1-bestuurder, verwelkom Allister Lightburn as die nuwe voorsitter. Foto: Murphy Roberts


“Nie baie gaan verander maar ons gaan harder werk om dienslewering vir die gemeenskap te verbeter.”

Dít is die woorde van die nuwe subraad 1-voorsitter Allister Lightburn, wat Donderdag 31 Augustus tydens ’n spesiale aanlyn vergadering tot die nuwe herder van subraad 1 verkies is.

Subraad 1 was 140 dae leierloos nadat die voormalige voorsitter, Nicky Rheeder, bedank het om ’n loopbaan in die buiteland te volg. Volgens Lightburn, wat ook die wykraadslid van wyk 29 is, sal kommunikasie met die gemeenskap opgeskerp word en dit sal met ’n oopdeurbeleid begin. “Ons weet dat daar ’n baie negatiewe beeld oor subraad 1 is en dit moet dadelik reggestel word.”

Lightburn sê die vorige voorsitter het reeds ’n stewige fondasie vir hom gelê waarop hy kan voortbou. “Rheeder se werketiek is aansteeklik en daarom sal ons daarop voortbou en selfs verbeter.

“Atlantis en die groter subraad het baie uitdagings en dit is wat my dryf om net te verbeter,” sê Lightburn.

“Ek weet ons gaan nie alles oornag kan verbeter nie, maar as ons almal hande vat, sal dit die pad soveel makliker vir ons maak. Inwoners en die opposisie se kritiek hou my op my tone, en daarom moet raadslede in subraad 1 aanvaar ons gaan nie nou die pas verslap nie – ons sal eerder die versneller dieper intrap,” verklap hy.

“Ons gaan ook nie by mekaar se werk inmeng nie, maar saamwerk, want dit gaan daaroor om ons gemeenskap te dien. Ek was nog nooit skaam om my hande vuil te maak nie, want dit is wat ’n werkesel doen, en dit is wat elke lynafdeling in die Stad weet.”

Volgens Lightburn was die skok oorweldigend toe hy die oproep van die burgemeester Geordin Hill-Lewis kry. Hy sê in sy wildste drome het hy nie gedink die burgemeester sou hom as sy gunstelingkandidaat uitwys nie, maar dit is weer eens ’n bewys dat harde werk betaal, vertel die nuwe voorsitter.

Volgens Wessie van der Westhuisen, die subraad 1-bestuurder, is Lightburn se aanstelling soos ’n vars briesie omdat hy baie het om te bied. Hy het die nuwe voorsitter verwelkom en gesê hy ondersteun die aanstelling.

“Lightburn se jeugdigheid en kennis van die plaaslike uitdagings sal subraad 1 gewis na nuwe hoogtes neem,” meen Van der Westhuizen.

Die raadslid Paul Swart het Lightburn voorgestel en dit is deur raadslid Anastacia Davids gesekondeer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 9 December 2025
    https://weslander.co.za/weslander-e-edition-11-december-2025/

Gift this article