Die voorsitter van subraad 1, Cynthia Clayton, is self ’n stewige boete opgelê omdat sy water mors.
Die bekentenis het Clayton gemaak by ’n vergadering met belangegroepe en klein ondernemings in Atlantis oor die huidige waterkrisis.
Dag Zero is nou na 13 Mei aangeskuif.
Clayton meen indien almal saamwerk en water bespaar gaan Dag Zero nie gebeur nie. Sy het ook gesê die Stad Kaapstad gaan die stryd teen Dag Zero wen.
Michael Marote, voorsitter van die Atlantis-sakekamer, stem egter nie saam nie.
Marote meen die waterkrisis beïnvloed werkskeppingsinisiatiewe in Atlantis.
“Die bou van die Eskom-substasie is moontlik in gedrang weens die waterkrisis. Sowat 200 kontrakwerkers wag nou al reeds meer as twee jaar om daar te begin werk. Hulle is steeds in die duister ten spyte daarvan dat grondverskuiwing reeds op die bouperseel begin het,” het Marote gesê.
Volgens Marote het Eskom wel met die subraad vergader om dié kwessie te bespreek, maar niemand het enige terugvoering ontvang nie.
Marote sê ook die droogte kan die konstruksiebedryf erg knou en dit is vir hom kommerwekkend.
Hoewel Pegas, die Tjeggiese tekstielreus, wat al meer as R1 miljard in Atlantis belê het, se perseel vir konstruksie voorberei word en dit lyk asof bouwerk binnekort sal begin, hoop en vertrou Marote dat alles volgens plan verloop en dat ondernemings nie gaan ly weens die waterkrisis nie.
Clayton het benadruk dat die Stad alles in hulle vermoë doen om die krisis die hoof te bied, maar om dit te vermag “moet almal saam werk”.