Sukses kom nie sonder uitdagings

Ter viering van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het kampvegter vir vroue en kinders, Barbara Rass, haar jaarlikse Vrouemid­dag Vrydag 30 November by die Rebecca van Amster­dam-saal in Atlantis gehou.


Ter viering van die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders het kampvegter vir vroue en kinders, Barbara Rass, haar jaarlikse Vrouemid­dag Vrydag 30 November by die Rebecca van Amster­dam-saal in Atlantis gehou.

Vanjaar se gasspreker was dr. Anika Nell, uitvoerende hoof van Stripform Packaging in die Atlantis se nywerheidsgebied.

Haar boodskap aan die vroue was dat elkeen van hulle suksesvol in eie reg kan wees.

“Niemand het gesê die lewe is maklik nie, niemand het gesê dat die lewe regverdig is nie, maar jou lewe is belangrik en jy is goed genoeg soos jy is,” het Nell gesê.

Die tema van die dag was, “die rol van die vrou”.

Nell het haar persoonlike ervaring met die gaste gedeel en vertel hoe sy haar werksloopbaan by ’n minimark begin het waar sy groente en vrugte geweeg het.

“Sukses kom nie oornag nie, maar slegs met harde werk. Mislukking is deel van die lewe. ’n Mens moet jouself toelaat om te faal. ’n Mens is geneig om eerder nie ’n werk te vat uit vrees vir mislukking en dan weet almal in die straat daarvan.

“Ons maak nie skool klaar nie of gaan nie verder studeer nie, want netnou is dit ’n mislukking. Jy moet genoeg in jouself kan glo en om mislukkings te aanvaar is deel van die lewe,” meen die vernuftige sakevrou.

Nell het die groep aangemoedig om hul kinders te laat studeer omdat dit die enigste uitweg uit armoede is.

“My ma het nie gewerk en skool klaargemaak nie. So, ek ken armoede, maar dit het my nie gekeer om my drome na te streef nie en vandag pas ek dit in my werk toe,” het sy bygevoeg.

“Jy is goed genoeg. Jy is pragtig soos jy is en jy is die spil waarom jou huis draai.

“Jy het die vermoë om baie suksesvol in jou eie reg te wees en seker te maak dat die mense om jou ook daarin deel het,” het Nell afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.