Suster Olivia Pharo is Saterdagoggend skielik oorlede. Dié “Florence Nightingale” van Atlantis het op 1 Maart 2019 haar eie private primêre gesondheidspraktyk geopen.

Suster Olivia Pharo (links) het ongeveer 200 tuisversorgers opgelei sedert die opening van haar kliniek. Sy het die afgelope Saterdag (13 September) gesterf. Foto: Murphy Roberts

Suster Pharo, soos sy alom bekend gestaan het, se pad was nooit met rose besaai nie. Sy het van haar eerste dag af klagtes en probleme met ander in gesondheidsorg gehad, het sy onlangs vertel.

Pharo se dood laat ‘n groot leemte in die dorp en hartseer inwoners se medelye stroom sedert Saterdag steeds op sosiale media in.

Pharo het ná byna 30 jaar as verpleegster haar pensioengeld gebruik om gesondheidsdienste vir inwoners bekostigbaar te maak. Haar eerste kliniek was op die tweede vloer van die Atlantis City Centre, maar was nie toeganklik vir mense in rolstoele en ouer pasiënte nie.

Sy het haar kliniek na die Med24-gebou geskuif, wat meer toeganklik vir pasiente was.

Suster Pharo het op 15 April vanjaar aangekondig dat haar kliniek ná langer as ses jaar van pasiënte behandel, vir ongeveer twee maande gesluit sal wees.

Kaylib Pylman was die kliniek se eertse pasiënt op 1 Maart 2019. Hier oorhandig suster Olivia Pharo sy mediese sertifikaat.

Pharo het besluit om dieselfde passievolle dienste van haar huis af aan te bied en het haar huis in haar droom omgeskep.

Die besluit is op twee redes gegrond – weens die stygende koste en haar persoonlike gesondheid. Suster Pharo moes ook onlangs die vernedering van goedkoop politiek ervaar toe ‘n GOOD-party-raadslid haar as ‘n “fong kong” gemerk het.

Suster Olivia Pharo oorhandig een van haar pas opgeleide tuisversorgers se sertifikaat.

Pharo het teruggekap dat sy met haar geld die wêreld vol kon gereis het, maar eerder besluit het om dit in die gemeenskap te belê.

“Ek werk reeds vier jaar lank sonder ‘n salaris,” het sy vroeër aan Weskus Nuus gesê.

Volgens Allison Samantha Adams, ‘n groot vertroueling van Pharo, sal die leemte wat sy nalaat, nooit gevul kan word nie, al probeer iemand hoe hard.

Suster Olivia Pharo (middel voor) met haar eerste personeel tydens die opening van primêre gesondheidsorgkliniek op 1 Maart 2019. Foto's: Murphy Roberts
Suster Olivia Pharo (middel voor) met haar eerste personeel tydens die opening van primêre gesondheidsorgkliniek op 1 Maart 2019. Foto’s: Murphy Roberts

“Sy was ‘n leier, ‘n geneser en ‘n ware steunpilaar in die gemeenskap,” het die kliniek op hul sosialemediablad gesê.

“Mag die gees van Olivia Pharo vir ewig in ons harte en in ons gedagtes voortleef asook in elke tree in die stryd vir geregtigheid en beter gesondheidsorg vir ons mense,” sê die kliniek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025