Swemskool wil Olimpiese swemmers oplewer

“Kinders moet nie ’n vrees vir water hê nie. Dit is my doel as sweminstrukteur om hulle gemaklik te laat voel in die water.”.


“Kinders moet nie ’n vrees vir water hê nie. Dit is my doel as sweminstrukteur om hulle gemaklik te laat voel in die water.”

Sò sê swem-instrukteur Gerrie Coetzee, eienaar van Atlantis se enigste swemskool, Glide Along Aquatics, wat reeds sedert 2015 bestaan en met slegs drie kinders begin het.

Die groep het vinnig gegroei en vandag is daar 33 ywerige swemmertjies tussen die ouderdom van vier en veertien jaar oud. Daar is ook ouer swemmers, wat vir swemlesse oor naweke kom.

Coetzee gebruik tans die Wesfleur-swembad in Atlantis om swemlesse aan te bied. Klasse is van Maandae tot Saterdae gehou, maar as gevolg van die waterbeperkings oefen hulle nou net Vrydae en Saterdae.

“Die swemskool het al aan verskeie swemgalas deelgeneem en sertifikate en medaljes gewen. Die studente is baie entoesiasties en geesdriftig as dit kom by swem. Hulle wil net meer en meer leer,” sê Coetzee.

“Daar is baie volwassenes en kinders wat nie kan swem nie en as ons kyk na die statistieke van verdrinkings vir 2016-’17, is dit ’n groot probleem.

“Kinders moet nie ’n vrees vir water hê nie. Dit is my doel as sweminstrukteur om hulle gemaklik te laat voel in die water. Swem is een van die vinnigste groeiende sportkodes. Dis hoekom dit vir my belangrik is om kinders bewus te maak van waterveiligheid,” sê hy verder.

Coetzee sê hy leer sy studente die volgende frase, om hulle bewus te maak van die feit dat dit altyd ’n risiko is wanneer jy in die water is: “although I am fully grown, I will never ever swim alone.”

Die grootste uitdaging vir die swemskool is wintertye, wanneer die swembad toe is. “Dit is ’n groot terugslag vir die kinders, want geen oefenning vind plaas gedurende die ses maande nie. Wanneer die somer-seisoen aanbreek moet kinders harder werk om weer op normale swemvlak te kom en dit neem baie tyd in beslag,” sê Coetzee. Ander uitdagings is die watertemperatuur wat die kinders se konsentrasievermoë beïnvloed. “Daar is tye wat ons swemklasse moes kanselleer as gevolg van weersomstandighede”.

Ten spyte van dit als, het Coetzee ’n visie dat Atlantis se kinders ook eendag in die Olimpiese Spele sal meeding.

You need to be Logged In to leave a comment.