Die Taiwanse Tzu Chi-stigting in Suid-Afrika het Sondag 19 Augustus weer die harte van plaaslike inwoners warm laat klop toe die stigting mielierys aan byna 1 000 mense oorhandig het.
Wesfleurpark was vroegoggend ’n miernes van bedrywighede soos mense probeer het om eerste in die ry te staan.
Volgens plaaslike organiseerder, Maggie Vaas, is dit die 16de jaar wat dié stigting kos aan die Atlantis-gemeenskap uitdeel en het dit sedertdien tot een van die grootste voedingskemas geword. Sy sê die stigting het destyds klein begin en afhangende van die nood skenk die stigting ook komberse en ander benodigdhede aan inwoners. Omliggende gebiede soos Mamre, Pella en Witsand het ook die afgelope paar jaar deel geword. Die stigting het ook verlede jaar sowat 2 000 kospakkies oorhandig en verskaf ook kos aan plaaslike sopkombuise en kleuterskole.