’n Taxibestuurder is Vrydagaand 15 Junie doodgeskiet terwyl hy vir die personeel van KFC gewag het.

Die 31-jarige taxibestuurder is vermoedelik twee keer in die kop geskiet.

Omstanders op die toneel was baie versigtig om met Weskus Nuus te praat uit vrees, maar een het egter gesê alles het baie vinnig gebeur. “Dit was vinnig. Dit het alles so gou gebeur ons het net die skote gehoor toe was daar niemand,” het die persoon vertel.

Werkers van die eetplek is getrauma­tiseer ná dié voorval.

Volgens ’n ingeligte bron het die verdagtes niks van die toneel gevat nie en dit blyk hulle was op die toneel om te skiet.

Die bron sê voorts een verdagte het die deur oopgeruk en toe die bestuurder wou keer, is hy geskiet.

Die taxibestuurder het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Volgens die bron kan daar nie in die stadium gesê word of die voorval bende­verwant is nie, want die slagoffer het glo geen bande met bendes gehad nie. Die motief agter die skietery is steeds onbekend.

Danksy inligting aan die polisie het die speurders na ’n huis in Dura-woonstelle gegaan waar ’n vuurwapen – moontlik die moordwapen – gevind is.

Altesaam 11 mense is vir dié voorval in hegtenis geneem.

Twee verdagtes het op aanklag van moord verskyn en nege vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Die verdagtes het reeds in Atlantis-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.