Taxibestuurders sien nou rooi

Taxibestuurders in Atlantis is op die oorlogspad nadat drie van hulle in hegtenis geneem is ná ’n gesament­like operasie deur polisie, wets­toepas­sers en die verkeersdepar­tement.


Taxibestuurders in Atlantis is op die oorlogspad nadat drie van hulle in hegtenis geneem is ná ’n gesament­like operasie deur polisie, wets­toepas­sers en die verkeersdepar­tement.

By dié operasie wat Vrydag 31 Augustus plaasgevind het, is daar ook op vier taxi’s beslag gelê wat nie ’n permit het om mense te vervoer nie.

Dié drie bestuurders het Maandag 3 September in die plaaslike hof op aanklagte van diefstal en verhindering van die polisie om hul pligte uit te voer, verskyn. Al drie is later op borgtog van R500 vrygelaat.

Volgens Chesirea Conradie, ’n taxi-eienaar wat ook toegesluit was, kon hulle nie verstaan waarom die wetstoepassers dié operasie gehou het nie. Conradie sê ’n afvaardiging van die eienaars is reeds geruime tyd in samesprekings met plaaslike raadslede, die subraadbestuurder en ander rolspelers oor die stand van taxi-sake in die dorp.

Hy sê ’n memorandum is Woensdag 22 Augustus aan die raadslede oorhandig waarin hulle eis dat die verkeersdepartement se taxi-eenheid nie verder beslag mag lê op mini-busse in Atlantis nie.

Die eienaars eis ook dat die Stad die klein MyCiTi-busse uit Atlantis moet onttrek sodat die taxi’s liewer mense na die nywerheidsgebied en dan na die groot bushalte én Melkbos kan vervoer.

Wat eienaars die meeste omkrap, is dat die dag voor die operasie, Donderdag 30 Augustus, ’n terugvoervergadering gehou was. Hiér is besluit dat ’n vervoermodule in Atlantis geskep moet word vir samewerking. Hy sê dié plan het die taxibestuurders hoop gegee.

Die volgende dag het die dorp glo gewemel van wetstoepassers en volgens hom was mense links en regs toegesluit. Gemoedere het in ’n stadium byna oorgekook toe woedende pendelaars hul weg te voet moes vind. “Hulle is gou om mense wat ’n eerlike verdienste wil maak toe te sluit terwyl dwelmhuise en bendeleiers met hand­skoene getakel word,” het pendelaars gekla.

Pendelaars en polisie het byna koppe gestamp oor die hardhandige werkswyse van die polisie en sê die taxi’s was dáár vir hulle toe die busse gestaak het.

“Die Stad het toe niks aan die taxi’s gedoen nie en dit laat ’n mens wonder oor hul motiewe,” het een pendelaar geskree.

Volgens Conradie is die meeste taxi-eienaars jong mans en doen hulle dit nie vir ’n vinnige rand nie, maar omdat hulle lief vir die bedryf is.

Wessie van der Westhuizen, subraad-bestuurder, het aan Weskus Nuus gesê vergaderings het in ’n goeie gees plaasgevind.

Hy was verbaas toe Weskus Nuus hom nader oor die beslagleggings.

By ’n vergadering Dinsdag 4 September tussen die partye was ooreengekom dat wetstoepassers voortgaan met optrede en dat amptenare oor twee weke terugvoering sal gee.

You need to be Logged In to leave a comment.