Rowena Stubbs was onlangs as die Westelike Provinsie-krieketvereniging se amptelike tellinghouer van die jaar vir die seisoen van 2017-’18 aangewys.
Rowena het dié prys by ’n ontbyt, wat deur die Westelike Provinsie-krieketvereniging aangebied is, op Nuweland ontvang.
Sy is van 2010 die amptelike tellinghouer van Atlantis-krieketklub. Vóór dit het sy vir Mamre Hawks telling gehou en dit alles te danke aan haar oorlede pa, Rowan Stubbs. Rowen het sy dogter se gawe vir dié sport raakgesien. Sy is ook nog steeds ’n netbalspeler vir Hamlets.
Rowena het in 2015 en 2016 telling vir die Titans by die Jeugweek in Stellenbosch gehou. In 2017 het sy by baie Kobras en Westelike Provinsie senior wedstryde telling gehou en was ook saam met die Westelike Provinsie se o.19-meisiespan na Port Elizabeth. Deur alles het sy elke naweek vir Atlantis diens gedoen. In Januarie 2018 het sy haar debuut as tellinghouer vir die Proteas teen Indië op Nuweland gemaak. Verder was sy ook agter die boeke in die internasionale 50- en 20-boulbeurtwedstryde teen Indië op Nuweland vir die Proteas se mans- en vrouespan. “Skralie” soos sy bekend staan, het ook by die toets tussen die Proteas en Australië op Nuweland, waar die balpeutery plaasgevind het, telling gehou. Wat Rowena se storie merkwaardig maak, is dat sy met publieke vervoer uit Mamre en Atlantis ry om haar pligte na te kom Die jong dame wat eersdaags gaan trou, is ook sekretaris van Atlantis-krieketklub en sien uit na die komende seisoen om telling vir die Proteas, Kobras, Westelike Provinsie en Atlantis-krieketklub te hou.
Sy is baie dankbaar vir haar oorlede pa, Rowan (een van die beste losskakels in die geskiedenis van Mamre-rugbyklub) en Atlantis-krieketklub, wat haar bygestaan het om haar drome te verwesenlik en om talle kursusse by te woon. Sy moedig ook jong seuns en meisies aan om by sport betrokke te raak, want dit verander jou lewe en maak jou drome waar.