Dis moeilik om te glo dat dit al weer Desember is.
Vir die Asez en vennote was dit ’n jaar van harde werk en ’n paar besonderse prestasies.
Dit was ’n heel ander storie aan die begin van hierdie jaar. Aan die begin van 2022 het die Asez geen bankrekening, geen grond en geen finansiering vir die infrastruktuur van sy eerste fabriek gehad nie.
Daardie storie het nou heeltemal verander!
Die oordrag van die grond is so vroeg as Maart 2022 bevestig, en die Asez het toestemming van die Nasionale Tesourie verkry om sy eie bankrekening te open in voorbereiding van finansiering. Die geld vir die infrastruktuur vir sone 1 is deur die Departement van handel, nywerheid en mededinging se spesiale-ekonomiese-sone-fonds goedgekeur.
Dit het ons in staat gestel om te adverteer en ingenieurs aan te stel vir die ontwerp van sone 1 en ’n kontrakteur vir die uitvoering van die ontwerp aan te stel.
Hierdie jaar het ons byna 150 internasionale afvaardigings, geïnteresseerde beleggers en verskeie amptelike besoeke gehuisves.
Elkeen van hierdie besoeke aan Atlantis lê die grondslag vir toekomstige beleggings sowel as ontwikkeling.
Terwyl al hierdie interessanthede aan die gebeur was, het die gemeenskapsbelange-groep-netwerk (CSN) saamgewerk aan beplanning om die plaaslike klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) en kontrakteurs meer by die huidige verwikkelinge van die Asez betrokke te kry. Deur hierdie proses het die CSN die infrastruktuurwerksgroep (IWG) gestig, en sodoende die raamwerk vir die plaaslike KMMO’s se deelname aan die konstruksieproses verseker. Hierdie raamwerk is deel van die konstruksietender.
Van Januarie 2023 af begin die proses van kontraktering en gereedmaking vir die begin van die bouwerk in sone 1 in Maart/April. Vanjaar het die Asez ook ’n verskeidenheid omvattende opleidingsprogramme aangebied, wat al die aspekte van kontraktering en konstruksie insluit. Dit is gedoen ter ondersteuning van die siviele werke vir sone 1.
Benewens al die opleidings-programme het die sonkrag-geiser-projek in Witsand en Pella asook die voedselversekeringprogram aansienlike internasionale belangstelling en mediadekking gelok.
Die finansiëlegeletterdheidsprogram het ’n groot uitwerking op die deelnemende klein onderneming gehad wat werklike finansiële opbrengs en voordeel gesien het. Dit het ook daartoe gelei dat hulle in hul onderneming herorganiseer en werk behou het.
Die Asez Change Challenge het bewustheid en belangstelling in groentegnologie en bewaring van plaaslike biodiversiteit verhoog.
Hierdie is slegs ’n paar van die hoogtepunte van ’n besige en vrugtevolle jaar. Namens die Asez wens ek almal ’n rustige en veilige feestyd toe, en ons sien daarna uit om in 2023 skouer aan skouer te werk.
Tot volgende keer.