Tiener doodgeskok na sy wasgoed op kragdraad hang

Die onwettige bedrading van informele huise in Witsand, net buite Atlantis, is weereens in die soeklig.


Die onwettige bedrading van informele huise in Witsand, net buite Atlantis, is weereens in die soeklig.

Dit volg op die tragiese dood van Ithumuleng Selela (12), wat Dinsdag 16 Mei oorlede is nadat sy wasgoed op ’n lewendige kragdraad gehang het en geskok het.

Volgens haar emosionele pa, Teboho Thelejame, het sy dogter die middag na skool wasgoed buite gewas.

“Ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar ons het net ’n gil gehoor en na buite gestorm, waar ek my dogter by die lyn sien staan het.

“Ons het haar van die draad weggeruk en het probeer om noodhulp toe te pas, maar ek kon sien dat sy besig is om te gaan. Van my bure het long life melk in haar mond gegooi in ’n poging om haar by te kry maar dit was te laat. Ons het met haar na die hospitaal gejaag, die dokter het egter gesê sy is reeds dood,” vertel hy.

Konst. Debi Alard, ’n polisie- woordvoerder, het die voorval bevestig.

“Die 12-jarige het na bewering omstreeks 17:00 wasgoed op ’n elektriese draad gehang en is geskok. Sy is na die plaaslike hospitaal geneem, waar sy met haar aankoms dood verklaar is.”

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen.

Hendrik van Wyk, hoof by Meeulenhof Primêre Skool in Philadelphia, waar Selela ’n leerder was, is die skool in rou gedompel oor die verlies van die eens lewenslustige leerder.

“Sy was ’n intelligente en goed-gemanierde leerder en het skool bygewoon tot die dag van die tragedie. Die skool het Vrydag ’n gedenkdiens vir Selela gehou.”

Wyksraadslid Barbara Rass het inwoners van Witsand gemaan om nie onwettige elektriese konneksies te las nie. “’n Tiener is beroof van haar toekoms. Dit is een lewe te veel.”

Rass het ook bevestig dat Eskom tans besig is om kragaanleggings na die informele nedersettings aan te voer.

“Inwoners moet asseblief net geduldig wees met die proses. Ithumuleng se dood kon verhoed word. Dit is nie die eerste keer dat iemand hul lewe verloor as gevolg van onwettige kragkonneksies nie en dit sal ook nie die laaste wees, indien mense nie versigtig en geduldig is nie,” het die wyksraadslid bygevoeg.

  • Ithumuleng Selela (12) from Witsand was shocked to death on Tuesday 16 May after she reportedly hung her washing on an electrical power line. This has brought illegal electrical connections under the spotlight once again. Ward Councillor, Barbara Rass, has urged residents of Witsand to be patient and stop illegal connections, as “Eskom is busy setting up connections for all”.

You need to be Logged In to leave a comment.