Tieners vas nadat hulle man van sy dop wou stroop

Twee seuns van onderskeidelik 15 en 16 jaar oud het Woensdag 10 April in die hof verskyn nadat hulle ’n man in Witsand beroof het.


Twee seuns van onderskeidelik 15 en 16 jaar oud het Woensdag 10 April in die hof verskyn nadat hulle ’n man in Witsand beroof het.

Die man is vermoedelik met ’n panga en mes bygekom nadat die tieners hom glo probeer beroof het.

Volgens kapt. Cyril Dicks, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het die voorval Dinsdag 2 April omstreeks 22:00 in Witsand plaasgevind.

Dicks sê die twee verdagtes het die klaer probeer beroof nadat hy bier by ’n sjebeen gekoop het.

Volgens Dicks het die klaer probeer om van sy aanvallers weg te kom, maar die twee was te vinnig.

Die klaer was nie van plan om sy dop net weg te gee en het homself, en sy drank, verwoed verdedig.

Hy het die een aanvaller met die bottel bier geklits, maar is self in die proses beseer.

Dicks verduidelik die man het later een van die aanvallers by die hospitaal opgemerk omdat dié ook mediese behandeling benodig het.

Die twee jeugdiges is later vasgetrek.

Hulle is egter deur die maatskaplike dienste in hul ouers se sorg gelaat.

You need to be Logged In to leave a comment.