Morgan Jacobs (28) van Robinvale is amptelik een van die 15 finaliste in vanjaar se Mnr. SA kompetisie.
Weskus Nuus het in Mei berig dat Morgan, wat by Wesfleur Primêr en Atlantis Sekondêr skoolgegaan het, uiteindelik vanjaar gevoel het dat dit die tyd is om vir die gesogte kompetisie in te skryf.
“Ek was altyd oorgewig en was nie so selfversekerd soos ek nou is nie. Ek het altesaam 61 kg afgeskud en nadat ek begin modelwerk doen, baie meer selfvertroue gekry.”
Morgan is nie net ’n “mooi gesiggie” nie, die indruk wat dikwels geskep word van modelle. Die jong rolmodel het nie minder as vyf kwalifikasies agter sy naam insluitend ’n LLB-graad en is ’n paar weke gelede gekeur om sy doktorsgraad te voltooi.
Armoede en swaarkry het ook nie dié jongman ondergekry nie. Wanneer hy jongmense toespreek, vertel hy gereeld van die moeilike tye wat sy familie deurgemaak het, waar hulle baie keer honger moes gaan slaap.
“Ek moes werk om myself deur universiteit te sit,” verduidelik Morgan, wat tans die korporatiewe sakespesialis by Eskom is.
Behalwe sy beroep, liefdadigheidswerk, studies, modelwerk en jogaklasse wat hy aanbied, is Morgan boonop ook ’n entrepreneur. Hy het sy eie kledingmerk AC by MJ, wat strikdasse en ander mansklere vervaardig wat hy self ontwerp.
Hy meen dis danksy sy ouers, Norman en Cynthia, dat hy so ’n harde werker is en sê daar is absoluut geen verskoning hoekom jy nie jou drome kan bewaarheid nie.
. Stem vir Morgan Jacobs deur MrSA008 na 47439 te SMS.