Toe nie vermis nie . . .

Dit was ’n “nag van hel” vir die ouers van ’n agtjarige seun wat vermis geraak het.


Dit was ’n “nag van hel” vir die ouers van ’n agtjarige seun wat vermis geraak het.

“Ons het nie geweet of ons kind nog lewe nie. Dit het deur die nag aan ons gevreet,” vertel die ouers, Dirk (46) en Ashley (25) van Wyk van Kanonkop.

’n Gerug is op sosiale media versprei dat hul kind voor die skool se hek ontvoer is.

Volgens Dirk het hy soos elke weeksdag sy kind Woensdag 5 Junie by Grosvernor Primêr gaan haal. Hy vertel dat hy ’n paar minute laat was en nie die kind gekry het nie.

“Ek het rondgevra, maar niemand het Christiano gesien nie. Ek het selfs in die naburige parkie gaan kyk, maar hy was nêrens. Ek het maar soek-soek huiswaarts gekeer met die hoop dat hy sou opdaag. Ek en my vrou het maar later polisiekantoor toe gegaan want ons het bekommerd begin raak toe hy nie opdaag nie,” vertel Dirk.

Die paartjie vertel hulle het goeie ondersteuning van die plaaslike polisie gekry.

“My buurman het egter toe ons met die polisie by die huis opdaag, gesê dat ’n leerder in die pad iets het om ons te vertel. Die 10-jarige seun bly nie ver van ons af nie en ons het by hom gehoor dat ’n wit Golf met donker vensters by hom en Christiano gestop het.

“Die bestuurder het ’n R10 noot na Christiano gewys en toe hy nader staan, het die bestuurder hom gegryp en weggejaag, het die seun vertel. Die polisie het dadelik werk gemaak van die inligting, en ek kon sien my vrou gaan knak.”

Dirk vertel dat dit een van die langste nagte in hul lewe was en die polisie het gereeld kom kyk of daar enige nuus was. Dirk sê het hy die volgende oggend vroeg maar weer skool toe gestap en bly hoop.

“Ek was nog nooit in my lewe so bly om iemand te sien toe die kind rustig aangestap kom nie. Die trane van blydskap het gerol en ek wou hom nie los nie,” vertel die pa. Christiano, onwetend van al die drama, het gesê hy het saam sy sesjarige neef huis in Uitbreiding 12 toe gestap omdat niemand die jonger kind kom haal het nie, en hy het die aand daar geslaap. ’n Foto van ’n 6-jarige leerder van Reygersdal Primêr wat glo “verdwyn” het, is onlangs op Facebook geplaas. Volgens Danny Pietersen, die skoolhoof, het Cassidy van Wyk die skoolbus na Kalbaskraal geneem om by haar tante te gaan kuier en sy was die volgende dag terug by die skool.

You need to be Logged In to leave a comment.