Toernooi ter nagedagtenis van belowende sokkerspeler gehou

Hoërskool Robinvale het tussen 3 en 5 Julie die Yanda Mdludlu-sokkertoernooi by die Robinvale-sportveld aangebied.


Hoërskool Robinvale het tussen 3 en 5 Julie die Yanda Mdludlu-sokkertoernooi by die Robinvale-sportveld aangebied.

Altesame 17 spanne van so ver as Somerset-Wes het aan die toernooi deelgeneem. Plaaslike deelnemende skole het egter goed gevaar en drie van die vier afdelings in die toernooi gewen.

Die toernooi is vernoem na een van die skool se leerders en ’n belowende jong sokkerspeler, Yanda Mdludlu (18), wat Sondag 2 Julie gesterf tydens ’n inisiëringseremonie in die Oos-Kaap. Volgens sy familie het die tiener ’n ernstige ontsteking opgedoen ná die besnydenis, wat ’n belangrike deel van die inisiasieseremonie vir die Xhosa-gemeenskap is.

Die gasheerskool se o.19 seuns- en meisiespan het skoonskip gemaak in hul afdelings. Die meisies het hul eweknieë van Ravensmead met 1-0 in die finaal geklop, terwyl die seuns met Ravensmead afgereken en die stryd met 4-3 vanaf die strafkol beklink het.

Die o.16-finaal tussen Ravensmead en Strelitzia van Uitenhage is ook met skoppe van die strafmerk beklink en Ravensmead was baas met 5-4. Die o.13-finaal was ’n plaaslike derby met Saxon Sea Primêr en Protea Park Primêr, wat mekaar in die finaal getakel het. Die skare se gunstelinge, Saxon Sea, het egter teleurgestel en moes tevrede wees met silwer toe Protea Park verras het en met die louere weggestap het met ’n 5-4 oorwinning van die strafmerk af.

Volgens Antonio Micheals, spanbestuurder en onderwyser by Hoërskool Robinvale, gaan die toernooi ’n jaarlikse instelling word en behoort volgende jaar se toernooi groter en beter te wees.

Yanda se spanmaats, onderwysers en afrigters het na afloop van die sokkertoernooi sy nommer 6-truie en die wenbeker aan sy naasbestaandes gaan oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.