Die amptelike liga-program van die Atlantis Sokkervereniging begin op 22 April en mens sidder om te dink dat al die velde nie geskik sal wees vir spel die komende sokkerseisoen nie.

Die huidige krisis waarin die Atlantis Sokkervereniging hulself bevind, is duidelik die Stad Kaapstad se skuld.

Om die huidige water-krisis as ’n verskoning te gebruik is kortsigtig en ’n poging deur die Stad om sy verantwoordelikheid te probeer systap.

Vir jare noem die amptenare dat daar waterbeperkings in plek is, veral op Robinvale-sportveld, terwyl water dag-en-nag op ander geriewe loop. Stukkende besproeiingstelsels word ook nie herstel nie en nooit is daar aansoek gedoen vir ’n spesiale vergunning om water te spuit nie.

Die Westelike Provinsie se klubrugby het laasweek begin, ondanks die waterbeperkings en die feit dat geriewe nie in ’n goeie toestand is nie.

Die Atlantis Sokker-vereniging spog met ’n R9 miljoen turfveld op Robinvale en wil moontlik vanaf Dinsdagaand wedstryde op die veld aanbied as ’n moontlike oplossing.

Atlantis-krieketklub moes ook die seisoen met ’n skaam gesig op die velde staan.

Dit is duidelik dat die Stad Kaapstad die waterbeperkings as verskoning gebruik terwyl die probleem voor die waterkrisis al daar was.

  • Daar sal so gou as moontlik ’n oplossing gevind moet word omdat dit meer as ’n duisend juniors raak en ’n mens raak bekommerd as hulle nie op ’n Saterdag kan sokker speel nie. Die menings in hierdie rubriek is nie noodwendig die van Weskus Nuus en Media24 nie.

You need to be Logged In to leave a comment.