Meer as 100 mense woon in haglike omstandighede op ’n plaas buite Mamre en moet maandeliks duisende rande aan huur uitgee terwyl sommige nou meen hulle is onder valse voorwendsels uit Pretoria gelok.
Inwoners van die sogenaamde Life on the Farm-gebied sê hulle betaal baie geld vir hul woonplek buite Mamre aan die bestuurder, Charmaine Pereira. Sommige inwoners vertel hulle het voorheen in motors geslaap voor hulle na Life on the Farm verhuis het.
Weskus Nuus het Nora Grose, die voorsitter van subraad 1, die wyksraadslid Cynthia Clayton en die raadslid Allister Lightburn na die gesamentlike operasie vergesel wat verskillende departemente van die Stad op dié plek uitgevoer het nadat klagtes ontvang is.
Amptenare van die departement van gesondheid was geskok om te sien dat kos wat se vervaldatum reeds lankal verby is die plek volstaan terwyl die brommers baljaar.
“Ek moet myself was en versorg. Ek het nêrens om heen te gaan nie en moet maar hiér bly,” vertel Dennis Herrenburg (70) wat net een been het en maandeliks R2 000 betaal.
Hy vertel ’n vriend het hom van die plek vertel waar hy rustig die plaaslewe kan geniet.
“Ek is nou hier en moet maar die beste hiervan maak. Hier is geen lopende water nie en die toilette is ’n gat in die grond,” sê hy.
Pereira sê kinders wat nie skool gaan nie kry tuisonderrig by “juffrou” en hulle het ook hul eie “dokter” wat minder ernstige gevalle hanteer.
Grose wou weet of die “juffrou” en “dokter” geregistreerd is, maar niemand kon enige dokumente verskaf nie.
Volgens gerugte op sosiale media, wat glo dié operasie genoodsaak het, is daar ook bewerings van dwelmmisbruik, maar die Metropolisie se honde-eenheid het geen dwelms gevind nie.
Inwoners het aan Weskus Nuus gesê hulle kan nie juis kla oor die toestande nie, want waarheen moet hulle nou eintlik gaan.
Volgens Pereira doen sy net ’n goeie daad aan haweloses deur vir hulle blyplek te gee en sy meen daar is niks fout met dit nie.
Amptenare verskil en sê die leefwyse van die bejaardes is onaanvaarbaar. Inwoners van Mamre, aan wie die grond behoort, sê die plek moet toegemaak word en mense moet na ’n ander gebied verskuif word.
Volgens Grose sal ’n verslag binnekort uitgereik word oor die lot van Life on the Farm se inwoners.
Volgens Carlo Viljoen regsverteenwoordiger vir die grondeienaars, is hy hard besig om ander grond vir die inwoners te kry en is tans in gesprek met twee grondeienaars vir die huur van grond. Viljoen het erken die groep is tans onwettig op die grond en sal verhuis sodra grond verseker is.


