Hamlets het Saterdag op sy tuisveld die Westelike Provinsie se Superliga B-titel verower toe die span Collegians met 59-24 geklop het.
Die span van Gavin Passens moes twee punte uit die wedstryd kry om die titel te wen, maar die spelers het die krane behoorlik oopgedraai en water gaan drink met 31-19.
Die tuisspan het reeds met die afskop die besoekers onderdruk gehad en het in die eerste 20 minute reeds die bonuspunt verseker.
Hamlets het met skitterende verdediging die besoekers op die agtervoet gehou, maar het ook die besoekers toegelaat om punte teen die verloop van spel aan te teken. Hamlets het egter telkemale onmiddellik teruggeslaan as die besoekers punte aanteken.
Met die Presidentsbeker en promosie na die topliga wat wink, sal Passens en sy span moet aandag skenk aan die spelers se gebrek aan konsentrasie.
Die tuisspan het hom verskeie kere Saterdag skuldig daaraan gemaak en het elke keer die prys betaal.
Hamlets sal die naweek ’n blaaskans geniet voordat hy Saterdag 21 September na City Park reis vir die halfeindstryd in die topses.
Die twee finaliste kry promosie na die topliga en die wenner sal ook die Presidentsbeker verower.
Hamlets se tweede en derde spanne het ook hul onderskeie afdelings gewen wat dit ’n eerste vir die span maak.