Hy het met die grootstes in die vermaaklikheidswêreld opgetree, maar vir Brent Krus is dit belangrik om nou terug te ploeg in sy gemeenskap.
Krus was net sesaar oud toe hy begin baskitaar speel. Met 25 jaar ondervinding is hy nou gereed vir die volgende fase van sy lewe; die van leermeester.
Die Atlantis Music Academy is sowat ses maande gelede op die been gebring en bied klavier-, kitaar-, dromme-, klawerbord en sangopleiding aan studente.
Dubai, Israel en Rusland is net van die lande waar Krus al opgetree het. Hy het ook al met die meeste groot name in SA opgetree, onder meer Emo Adams, Loukmaan Adams, Denim en vele meer.
“Ons moet andere leer dat dit ook moontlik is vir hulle. Atlantis het hope talent en ’n musiekskool is iets wat establish mòès word,” sê Krus.
“Mense sien my nou op herhalings van Jou Show met Emo Adams en hulle word opgewonde om my op televisie te sien, maar die pad na sukses was nie maklik nie.”
Krus sê hy sien homself as ’n mentor vir jonger musikante en gee graag advies en leiding.
Dié talentvolle musikant speel baskitaar, kitaar, dromme en sê hy het ’n goeie begrip van die klavier en klawerbord.
“Ek stel nie belang om klavier te speel nie, maar ek het ’n goeie begrip van hoe dit werk, soveel so dat ek met my kitaar groepe kan begelei,” verduidelik hy.
Krus het groot planne om musiek meer toeganklik vir jonges te maak en sê nie almal hou van of neem deel aan sport nie, “musiek is ’n goeie alternatief”.
Alhoewel studente ’n minimale bedrag betaal vir die klasse, dek dit nie al die koste nie. Om die musiekskool te finansier reël Krus ’n Jazz-fees oor Paasnaweek van 13-16 April by die Tiger’s Eye-nagklub in Atlantis met optredes deur Dr. Waka, Franky Souldeep, Vuvu Kumalo, Sammy Webber, Candice Thornton, Donveno Prins, Major 7 Band, Lee Stagg, William Jacobs en Tracy Butler. Kaartjies vir die vertonings wissel tussen R60 en R250 (naweekpas). Kontak 074 238 9045 vir meer inligting.