Tot die dood ons skei…

Liefde. Respek. Waardering. Ondersteuning.


Liefde. Respek. Waardering. Ondersteuning.

Dìt, vertel Magdalena en Stephanus Baartman, is die gom wat hul huweliksbande vir amper 60 jaar aanmekaar gehou het.

Die bejaarde paartjie (onderskeidelik 80 en 81), wat steeds na mekaar kyk met sterre in hul oë, het op 1 Februarie vanjaar hul 59ste huweliksherdenking gevier.

Die twee het mekaar in 1955 in Stellenbosch raakgeloop.

“Sy het onmiddellik my aandag getrek,” vertel oom Stephanus met ’n effense glimlag.

“En ek was bang vir hom, want hy was ’n bodybuilder en het al die meisies opgetel,” voeg tannie Maggie by.

Een Sondag het Stephanus geweet Magdalena moet by die hospitaal gaan werk, hy het aspris in die veld, naby waar sy verby moet loop, rondgedwaal.

“Ek het haar gevra of ek nie saam met haar kan stap nie,” en so het die vriendskap begin.

Die pad na ware liefde was ook nie altyd maklik vir die twee nie.

“Haar pa het nie van my gehou nie en sy het pak gekry oor my.”

Magdalena het later in Plumstead gaan werk, maar die twee het steeds vir mekaar briefies geskryf. En na drie jaar van briefies skryf, handjies vashou en piksoene het Stephanus besluit dis tyd om die ja-woord te vra. Keer op keer het hy gaan ouers vra, maar Magdalena se pa het hom herhaaldelik weggejaag.

Stephanus het op Oujaarsdag 1957 moed bymekaar geskrap en wèèr probeer. Weereens is hy afgekeur. Totdat ’n familievriend Magdalena se pa laat rede insien het en hy uiteindelik sy toestemming gegee het.

Twee maande later het die twee voor die kansel gestaan. “Magdalena se pa het die huwelik net ’n maand kans gegee,” vertel Stephanus.

Twee jaar later is die paar se eerste kind, ’n dogter, gebore. Nog drie dogters en ’n seun het oor die jare gevolg. Hulle het nou 16 kleinkinders, 10 agterkleinkinders en drie agter- agterkleinkinders.

Die Baartman-paar sê hulle is mekaar se beste vriende, hou geen geheime vir mekaar nie en lag met mekaar.

“My man is sjarmant en so aantreklik,” sê tannie Maggie, terwyl die oom liggies bloos. Elke oggend maak hy my wakker met die woorde, Up, you beauty!

“Ons huwelik is gekenmerk deur baie toetse, beproewings, ongelukke, struikelblokke, siekte, koue winternagte . . . maar ons het alles oorwin.

“Prys die Here!”

You need to be Logged In to leave a comment.