“Die werf is oorgehandig aan die kontrakteur en dis all systems go!”
Ná ’n byna ses jaar lange stryd is daar nou net trane van blydskap vir die inwoners van Pella met fase 1 van die Pella-behuisingsprojek wat uiteindelik aan die gang gesit is.
Die projek, wat 180 nuwe huise gaan besorg, het verlede jaar die groenlig gekry en gaan in fases gebou word.
Die eerste 30 huise word eersdaags gebou.
Volgens proporsionele raadslid en inwoner van Pella, Fiona Abrahams, het sy reeds in 2011 die behuisingskwessie na die raad geneem.
“Doemprofete en kritici het destyds gesê dis maar net ’n stemwerwery. Die mense het nie geglo dit sal in die volgende 100 jaar gebeur nie,” sê sy. Volgens Belinda Valentine, sekretaris van die Pella-behuisingskomitee, loop dieselfde doemprofete nou met breë glimlagte van pure trots.
“Pella gaan sy eerste behuisingsprojek kry ten spyte van die feit dat inwoners moed opgegee het omdat dit so lank geneem het.”
Die projek gaan ook tydelike werk skep vir ongeveer 100 inwoners.
Valentine sê voorts dit was moeilik om inwoners aan te moedig toe hulle as komitee self by tye begin twyfel het aan die deurvoer van die projek.
“Die volk wou nie in ons glo nie, maar nou kan die volk nie genoeg dankie sê nie, sê Nico Apollis, voorsitter van die behuisingskomitee.
Weskus Nuus het in Februarie berig hoe Pella-inwoners hardhandig deur die Stad Kaapstad se wetstoepassers en teen-grondbesettingseenheid van die kerkgrond verwyder is – nadat mismoedige inwoners op ’n oop stuk veld begin plak het.
Die plakkers het intussen weer hul strukture opgerig, maar sukkel steeds met geen basiese dienste. Wyksraadslid Cynthia Clayton het vroeër die maand tydens ’n terugvoerings-vergadering aan Pella-inwoners, gesê die Morawiese kerkringkoppe het gevra om met haar te vergader, waartydens sy onder meer die grondkwessies sal bespreek.