Met trane wat van tyd tot tyd gevloei het en teleurgesteld in hulself omdat hulle die meer as 3000 toeskouers in die steek gelaat het, het die Young Hearts-span steeds kop omhoog van die veld gestap nadat Wesbank van Malmesbury hom met 47-29 verslaan het.
Die nederlaag was Young Hearts se eerste dié seisoen op sy tuisveld en dit het ook ’n einde aan dié span se sprokiesdebuut in die Boland se topliga gebring. Young Hearts eindig onder op die punteleer van die streek se topagt.
Wesbank het van die begin af hard onder die tuisspan ingeklim, maar hulle het besef die tuisspan het ook halfeindstryddrome. Die besoekers was gou met 7-0 voor, maar die tuisspan het minute later sake gelykop gemaak.
Die eerste helfte was baie gelyk en nie een van die twee spanne kon regtig die spel domineer nie. Die tuisspan het gulde geleenthede met verkeerde besluitneming verbrou wat hom duur te staan gekom het en die besoekers toegelaat om teen die verloop van spel punte aan te teken.
Pella, wat nog sekondes voor halftyd met 24-19 voor was, moes gaan water drink met die besoekers wat met 26-24 die voortou geneem het nadat hulle vir die tweede keer sewe punte op ’n skinkbord gekry het.
Die tuisspan se gevaarlike agterlyn het nie teleurgestel nie en het al die span se drieë gedruk.
Pella het die tweede helfte goed begin en het minute ná die afskop weer die voortou met ’n onverdoelde drie geneem.
Die besoekers het egter nooit gaan lê nie en gewys hy is die hongerste van die twee spanne. Die ervare Wesbank-span het daarna die tuisspan gestraf vir sy verkeerde besluitneming en die feit dat die tuisspan nie sy geleenthede wou gebruik. Met die telling gelykop met 29 elk het die tuisspan se senuwees behoorlik geknaag en het hy een fout na die ander gemaak wat die besoekers behoorlik uitgebuit het.
Wesbank het nog twee drieë gedruk en ook twee skepskoppe behaal om tot die halfeindstryd van die Boland-kampioenskap deur te dring.