Die 70-jarige Jacoba Pienaar sê dit het haar omgekrap dat mense hul rommel op die stukkie grond kom strooi en besluit om iets aan die saak te doen.
“Ek het verskeie dae na die kantoor gestap om te kla. Die vullis het ’n gesondheidsrisiko vir almal hier in Charnwood Close in Sherwood-park ingehou,” vertel Pienaar.
“Die dag toe die Stadsraad vier jaar gelede besluit het hy kom maak skoon, was ook die dag dat ek besluit het hier sal nooit weer gestort word nie.”
Volgens Pienaar het sy haar familie ingespan en ’n tuin op die oop stuk grond, waar rommel net gegooi is, begin uitlê.
Sy het egter steeds struikelblokke.
“Sedert verlede jaar se droogte sukkel ons vreeslik met water vir die tuin,” sê Pienaar. Sy sê die tuin het byna tot niet gegaan as gevolg van die tekort aan water.
“Almal het maar hul gryswatertjies daar gaan gooi net om die blomme aan die lewe te hou, maar ons het dringend water nodig om die tuin nat te maak en aan die gang te hou,” sê Pienaar.
Volgens Barbara Rass, ’n plaaslike wykraadslid vir die gebied, is water “oral ’n probleem”.
“Die Stad sukkel self om sy velde en parke in stand te hou en gryswater word oral vir dié doel gebruik,” sê Rass.
Sy het aan Weskus Nuus gesê sy probeer om die familie te ondersteun en sal haar bes doen om gryswater aan die familie te verskaf.