Inwoners van Mamre sê hulle is keelvol vir die onwettige grondbesetting van hul grond en het die spreekwoordelike daad by die woord gevoeg.
Begunstigdes het hulle reeds van Saterdag 7 Januarie af in groot getalle na die landbougrond, wat aan die Laaste Stuiwer Begunstigdes-trust behoort, gehaas nadat dit bekend geword het dié grond, naby Silwerstoom, word beset.
Die besetters het hulle nie aan die groot getal wetstoepassers gesteur nie. Die wetstoepassers het ’n wakende ogie oor die situasie gehou, maar nie tussen die twee partye ingetree nie.
Volgens Celeste Arendse, sekretaris van die trust, is daar reeds drie jaar gelede tussen die trust en onwettige plakkers ooreengekom dat geen nuwe besetters op die landbougrond toegelaat sal word nie. Arendse sê die departement van grondhervorming het reeds die vorige groep onwettige grondbesetters vir huisvesting verplaas.
Saterdag het gemoedere tussen die twee strydende groepe by tye hoog geloop, met twee vroue wat na mekaar gegryp het.
Volgens ’n leier van die besetters, wat hom net as die hoofman voorgestel het, is hulle ongelukkig met die manier hoe begunstigdes “te kere gegaan het” nie. Die hoofman sê die Here het hom na die grond gelei en hy wou nie sê van waar hy kom nie.
Arendse verduidelik die grond word deur verskillende komitees wat die besetters stig, verhuur.
Die plaaslike trust het reeds in 1998 ’n grondeis ingedien, wat goedgekeur is. Die trust is nou in besit van die titelakte van die byna 2 500 hektaar grond. Volgens Arendse is ’n opname reeds jare gelede gemaak van onwettige besetters wat amptelik verskuif sal word. Die res van die besetters, wat intussen onwettig op die grond kom plak het, moet eenvoudig die grond verlaat.
Arendse sê die departement van landbou en landelike ontwikkeling het vroeër in ’n vergadering met die trust gesê hulle gaan die besetters na ’n ander terrein verplaas.
In die vergadering is gevra die trust moet borde wat lui “Private eiendom” opsit.
Volgens die trust moes die verskillende departemente reeds terugvoering aan hulle gegee het oor die situasie.
In die vergadering is ook besluit die Trust moet regsadvies kry om moontlike bedrogklagtes teen diegene wat dele van die grond onwettig verhuur, te laat ondersoek.
Teen druktyd was geen verdere verwikkeling in die situasie te bespeur nie.