Twee mense is in twee onderskeie voorvalle in Atlantis doodgeskiet.
In die eerste voorval is ’n man Vrydag 9 Maart in Cawdorstraat, Saxonsea geskiet. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is die man agter die oor getref. Die motief vir die moord is steeds onbekend en die polisie ondersoek ’n klag van moord. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
’n Seun van 16 jaar van Protea Park het Saterdag die dood vrygespring toe hy in Marigoldstraat gestap het en ’n bekende persoon hom genader het en op hom begin skiet het. Die skieter het te voet gevlug en is later deur die polisie aangekeer en verskyn binnekort in die hof op aanklag van poging tot moord.
Later die aand is die 53-jarige Theresa Goliath oorlede nadat vermeende bendelede op inwoners losgebrand het by ’n geselligheid by hul huis by die Neptune Castle-woonstelle.
Volgens een van die ooggetuies, wat nie geïdentifiseer wil word nie, het hulle lekker gekuier toe die aanvallers op mense oorkant die pad begin skiet het.
“Die een skieter het na ons gedraai en net begin skiet. Theresa, wat langs my gestaan het, het begin struikel. Ek het gedink dit is van die voggies, maar sy het toe inmekaargesak. Ek het haar probeer regop kry, maar het gesien daar is bloed op haar rok. Sy het toe aan my gesê sy is raakgeskiet.
“Dit was haar laaste woorde, voor sy in my arms gesterf het,” vertel die bron. Nog ’n man is in die been geskiet en sterk tans in die hospitaal aan. Goliath se familie wou nie in die stadium kommentaar lewer nie.
Volgens sers. Rwexana is niemand nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.