Ons voel soos gyselaars in ons eie huis.

Só sê families van die vier persone wat Sondag 17 September kort na mekaar in Mahemstraat, Robinvale op kort afstand doodgeskiet is.

Ethan Cloete (21) en Trudy Gomes (27) is omstreeks 00:30 geskiet terwyl hulle glo deur ’n inwoner se agterplaas geloop het wat nie omhein is nie. Die twee het op die toneel aan kopwonde gesterf. Volgens die eienaar van die huis, wie nie genoem wil word nie, verbind haar erf twee strate en mense loop gereeld daardeur omdat dit oop is.

“Ek weet nie of die twee gejaag was en of hulle voorgelê was nie. Maar toe ons die skote hoor en uitkom, het die twee langs die huis dood gelê,” vertel sy.

Volgens ’n familielid van Gomes, was sy ’n baie opgewekte persoon met ’n wye vriendekring. “Ons probeer nou uitwerk hoekom iemand haar sou skiet,” het die persoon, wie nie genoem wil word nie, gesê.

’n Paar minute later is Michael Koopman (24) en sy pa, Reginald (49), in dieselfde straat, ’n paar meter verder geskiet.

Volgens ’n polisiebron, is die twee ook verskeie kopskote toegedien. Volgens ’n familielid, wie uit vrees anoniem bly, het Michael, wat by Atlantis Foundries gewerk het, die Saterdag by sy pa in Abbots­dale gaan kuier omdat hy nog sukkel om sy broer se dood te verwerk.

Michael se broer, Randall Koopman, is 20 Augustus in Mamre doodgeskiet. Die familielid vertel voorts die twee het sigarette gaan koop toe hulle geskiet is. Die familie, wat nog treur oor Randall se dood, sê dit is ’n geweldige slag.

Intussen sê Warren Carolus, voorsitter van die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), dit is nie genoeg om te sê jy is moeg vir misdaad nie.

“Almal sê genoeg is genoeg, maar tog doen niemand iets daaraan nie. Atlantis kan net ’n veiliger plek word as almal saamwerk, sê Carolus.

Carolus meen alle bende-verwante skietvoorvalle moet onder die POCA-wetgewing ondersoek word, hy sê ook die polisie moet meer doen om vuurwapens van die strate af te kry.

Hy sê ook inwoners moet ophou hul monde op sosiale media uitspoel en by buurtwagte begin aansluit.

Die twee dubbelmoorde op een dag is ’n eerste vir Atlantis. Provinsiale polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het aan die Son gesê vier klagtes van moord word ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem. Teen druktyd het Atlantis-polisie nog nie op Weskus Nuus se navrae reageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.