Atlantis-krieketklub (Baggy Blues) het twee oorwinnings na mekaar behaal, danksy goeie boulwerk.

Die span het in sy eerste wedstryd van die nuwe jaar die besoekers uit Kensington met drie paaltjies geklop. Die besoekers, wat eerste gekolf het, was almal terug in die kleedkamers vir ’n skamele 95 lopies. Die Blues se draaiboulers het behoorlik baljaar en het agt paaltjies onder mekaar geneem. Saterdag 26 Januarie het die span weer behoorlik teen Vishoek gekook. Die be­soekers het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Vishoek was van die eerste bal onder druk en kon nooit her­stel nie. Die Blues het druk volgehou en het die besoekers uitgeknikker vir 56 lopies. Die tuisspan het daarna die tei­ken op ’n drafstap bereik met slegs een paaltjie plat en sodoende die wedstryd maklik met nege paaltjies gewen. Die span is tans tweede op die punteleer en onthaal Macassar dié naweek.

You need to be Logged In to leave a comment.