Twee polisiebeamptes van Wellington, wat by die Philadelphia-polisiekantoor werk, is Dinsdagaand, 6 Augustus by hul werkplek op klagte van korrupsie in hegtenis geneem.
Sers. Alfred Geduld (35) en konst. Ivan Hendricks (37) is Woensdag op borgtog van R1 000 elk in die Atlantis-landdroshof vrygelaat.
Die polisiebeamptes het volgens kapt. FC van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, Maandagnag ’n voertuig op die N7-hoofweg afgetrek en geld by die bestuurder geëis.
Die twee beamptes het glo aan die bestuurder gesê hy moet R1 000 betaal of hy sal van dronkbestuur aangekla word.
Van Wyk sê volgens ’n getuie wat in die motor was, het die bestuurder eers R300 aangebied, maar die twee wou nog R100 hê. Die bestuurder het die R400 voor sy medepassasier aan die twee gegee en dit die volgende oggend aangemeld.
Die twee polisiebeamptes is deur die polisie se teenkorrupsie-eenheid in hegtenis geneem en in Atlantis aangehou.