“Ek kan nie beskryf wat hier binne aangaan nie. Dit jubel in my hart!”
Dit was die reaksie van een van die oudste begunstigdes van die Pella-behuisingsprojek, an’ Gina Boois (75).
Na sowat ses jaar van beplanning en baie frustrasie, is die eerste 15 huise Saterdag 4 Augustus aan die begunstigdes tydens ’n seremonie in die Morawiese kerk oorhandig.
Na amper 50 jaar van getroude lewe kon an’ Gina en haar man, oom Manie (70), uiteindelik die deur van hulle eie huis oopsluit.
An’ Gina het aan Weskus Nuus gewys waar sy vir klompie jare buite vuur gemaak het om kos aan haar gesin te voorsien.
“Vir jare het ek kos op die bed opgeskep. Die borde moes op die klere staan, dit was ons rakke. Ons moes opwas en kosmaak buite, al reën dit klippe.”
Nico Apollis, voorsitter van die behuisingskomitee, het ’n kort oorsig gegee oor die geskiedenis van die behuisingsprojek en die jarelange stryd om uiteindelik huiseienaars te word. Apollis het al die rolspelers vir hulle bydrae tot die sukses van die projek bedank.
In 1994 het die Morawiese kerk en die nasionale departement bymekaargekom en ’n ooreenkoms geteken, wat lidmate in staat sou stel om grondeienaars te word.
Die Pella-behuisingsprojek was ’n droom van proporsionele ANC-raadslid, Fiona Abrahams, ’n boorling van die dorp. In 2011, toe sy tot die raad verkies is, het sy met nog ’n boorling, Dean Goliath, begin praat om die bal aan die rol te sit. Die projek was gedryf deur die Pella-behuisingskomitee.
People’s Housing Project (PHP) is ’n unieke model omdat die gemeenskap in beheer is van die oprig van hierdie huise. Die begunstigdes het hulle eie kontrakteurs en diensverskaffers aangestel.
Inwoners het die kontrakteur, Johnny Swartbooi van Lawula-kontrakteurs asook subkontrakteur, Reagan Maniel, geprys vir hulle toegewydheid aan die projek wat sowat R19,6 miljoen beloop het en het gesê Lawula het in die behuisingsprojek en gemeenskap begin belê alvorens daar ’n begroting was.
Abrahams was ook die gasspreker op die dag. Tydens haar toespraak het sy gesê dit was ’n lang proses met baie frustrasies. Sy het aan inwoners gesê dat die nuwe huise ’n nuwe seisoen vir hulle families simboliseer.
“Gaan in jou huis met goedertierenheid. Soos die hok afgebreek word, so moet julle verlede ook afgebreek word. Ons kan nie meer apartheid blameer nie. Ons moet sélf dinge begin doen,” het Abrahams bygevoeg.
Burgemeester Patricia de Lille het op 10 Augustus, 10 huise aan begunstigdes oorhandig en nog vyf begunstigdes sal op 22 Augustus sleutels ontvang. Die huise word in fases oorhandig totdat al 180 begunstigdes na verwagting, teen Augustus 2018 hulle huise ontvang het.