Atlantis se matriekuitslae het heelwat verrassings opgelewer ten spyte van ’n sterk daling in die algehele uitslae.
Saxon Sea Sekondêr (94,6%) het ten spyte van ’n 3%-daling in sy slaagsyfer steeds die beste in Atlantis gevaar en Chante Matthysen (79,6%) was die skool se beste presteerder.
Hoër Tegniese Skool Proteus het vir die enigste styging in sy slaagsyfer gesorg deurdat die skool se slaagsyfer met ’n stewige 5% gestyg het tot 77,2% en derde beste in die dorp gevaar het. Die skool het ook geskiedenis gemaak met sy eerste A-kandidaat, Giovanni Links. Giovanni het met sy gemiddelde van 80,4% die prysgeld vir ’n eerste A-kandidaat met sy puik uitslae verwerf. Die prysgeld is vir meer as 30 jaar in ’n trust gehou.
Hoërskool Robinvale het ten spyte van ’n daling van 2% weer tweede beste gevaar en Wayde Goby met ’n gemiddelde van 74,4% was die skool se topleerder.
Al het Atlantis Sekondêr, in die middel van die bendegeteisterde Avondale, se uitslae met ’n hele 10% gedaal, het die skool steeds Atlantis se slimste matrikulant opgelewer. Yushra Dinnie het stof in almal se oë geskop met haar gemiddelde van 82%.
Volgens Evan Marthinusen, voorsitter van die vereniging van skoolhoofde het bendebedrywighede by die hoërskole beslis ’n invloed op die uitslae gehad. Hy sê dat leerders nie net oor hul veiligheid besorg is nie, maar ook oor die wyse van vervoer waarop hulle by die skool moet kom. Dit beïnvloed ook leerders se voorbereiding vir eksamens omdat hulle in vrees moet studeer.
Marthinussen meen dat die probleem nie deur skole alleen aangespreek moet word nie, maar ook deur die hele gemeenskap. “Alle partye betrokke by veiligheid en maatskaplike bedrywighede moet hande vat om die bendeprobleem vas te vat. Politieke partye moet saamstaan vir die veiligheid van almal en veral die kinders,” het hy gesê.