Die negejarige Ulrich Claassen het in September Suid-Afrika en Atlantis by die Wêreld Goku Ryu Karate Federasie-kampioenskap in Roemenië verteenwoordig.
Die gr. 4-leerder van Saxonsea Primêr is ook Weskus Nuus en Supersport se Let’s Play-wenner vir Junie.
Hy beoefen reeds van vyfjarige ouderdom karate en het tans ’n persgordel (III) in die sport. Hy neem nou reeds twee jaar deel aan kompetisies en het reeds (net vanjaar) verskeie medaljes verower in die kumite- en kata-afdelings, insluitend: interskolebyeenkoms (dubbelgoud) asook dubbelgoud by ’n byeenkoms in Johannesburg en brons en goud vir ’n byeenkoms in Mosselbaai.
Sy grootste prestasie is die dubbelbrons wat hy in Roemenië verower het.
Hy oefen twee keer per week saam met sy afrigter Alphonso Afrika vir sowat 90 minute.
Van sy eerste vliegervaring vertel Ulrich, hy was bietjie angstig, maar gelukkig was ma, Sherine Claassen, saam om hom gerus te stel.
“Die oggend voor die kompetisie, was ek bietjie bang en kon ek nie eet nie, maar toe ek eers op die mat is, het ek vir die Here dankie gesê dat ek in Roemenië kan wees.”
Ulrich vertel hy het baie nuwe vriende van Roemenië en Italië leer ken en kan nie wag om 2019 na Maleisië te reis om hulle weer te sien nie.
Die topdrie-wenners in elke afdeling by die Wêreld Goku Ryu Karate Federasie-kampioenskap is genooi om 2019 in Maleisië aan ’n kampioenskap deel te neem.
Wanneer hy groot is wil hy graag ’n skerpskutter word en sy oupa help met sy begrafnisonderneming en leer om ’n mediese dokter te wees.