“What lies behind you, and what lies before you, are tiny matters compared to what lies within you” – Ralph Waldo Emerson.
Dit was die bekende woorde waarmee Petrus Kastoor, ook aan baie bekend as Uncle Cassy, jou daagliks sou groet.
’n Indrukwekkende meester van ouds, wat alles in sy vermoë sou doen om te verseker dat elkeen om hom met die nodige respek behandel word. Met geswoeg en gesweet het hy diep spore in die gemeenskap kom trap, alles om die gemeenskap vooruit te laat gaan.
Meneer Kastoor was die eerste, trotse skoolhoof van Avondale Primêr – ’n skool waarvoor hy alles sal doen.
Hy sou sy plig as skoolhoof én die van onderwyser nakom en vir baie daar buite ook ’n mentor en vaderfiguur wees.
Sy sprankelende persoonlikheid is iets wat almal altyd sal bybly. Sy glimlag kon jou warm van binne laat voel en die mense laat besef dat passie hierdie ou meester dryf.
’n Godsman, wat ten spyte van die uitdagings uit die gemeenskap kon moed hou en die weg vorentoe kon uitlê, vir baie van kinders wat vandag grootmense is. Met sy oë gevestig op die Hemelse Meester, kon Uncle Cassy baie in sy tyd op aarde bereik.
Na 88 lang jare is hy 11 Desember 2017 sag en tevrede dood – wetend dat hy sy taak hier op aarde tot die beste van sy vermoë voltooi het.
Dit is altyd hartseer om totsiens te sê vir so ’n groot gees, maar die blywende gedagte van sy nalatenskap maak almal wat agterbly, hoopvol op ’n toekoms wat in niemand anders se hande as in ons s’n is nie.
Ons groet ’n legende – die Seder het geval.
– Waldie Kastoor