Boeliegedrag onder leerders bly ‘n kommerwekkende kwessie wat elke nou en dan die kop uitsteek en die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is daartoe verbind om die ongewenste gedrag by skole hok te slaan.
Volgens Unathi Booi, ‘n woordvoerder vir die departement, het die WKOD ‘n aantal intervensies wat op afknouery fokus.
“Ons voer talle veldtogte teen afknouery op distriks- sowel as skoolvlak, soos byvoorbeeld teenboelie-konferensies of teen-boelieweke waar voorspraak en opvoeding oor kuberafknouery is en praktiese stappe wat leerders kan doen om hulself teen afknouery te beskerm.
“Ons bevorder ook voortdurend ons Veilige Skole-hulplyn wat berading, ondersteuning en raad aan leerders en ouers bied, sowel as ‘n meganisme om sulke gedrag vir verdere ondersoek aan te meld. Ouers en leerders moet eers sulke mishandeling by hul onderwysers /skoolbestuur aanmeld. Dit is belangrik dat die skoolbestuur bewus is van die bewerings sodat hulle dit so gou as moontlik kan ondersoek.”
Skakel die Veilige Skole-hulplyn by 0800 45 46 47 om boeliegedrag aan te meld of hulp te ontvang.

