Sestien plaaslike leerders, almal lede van die Velocity-atletiekklub, het Donderdag na Potchefstroom gereis om aan die Suid-Afrikaanse Landloopkampioenskap te gaan deelneem.
Vyf van die atlete is ook in die Westelike Provinsie-span opgeneem.
Die klub se bestuurslede het Woensdag ’n funksie by Saxonsea Primêre-skoolsaal vir atlete en hulle ouers gehou waar hulle T-hemde en vliegtuigkaartjies oorhandig is.
Die klubbestuur en ouers het verskeie geldinsamelingsprojekte gehou om die vliegtuigkaartjies en verblyf te kan betaal.
Tashwell Adams, voorsitter van Velocity-atletiekklub, het op sy beurt gesê die werk wat die klub doen, is dieper as net atletiek. Een van die jongmans wat onlangs vermoor is, Valentino Williams, was ook ’n lid van dié atletiekklub.
“Ons gemeenskap is in pyn. Valentino is die tweede atleet van dié klub wat in die laaste twee jaar doodgeskiet is, maar wat doen ons as die klub om dinge in ons gemeenskap te verander,” het Adams gevra.
By die geleentheid het die gasspreker, Naliza van der Schyff besturende direkteur van Athletic Solution en aktiewe gemeenskapswerker in Atlantis, gesê dat ook atlete gemotiveer en bemoedig moet word.
“Wanneer jy 100% toegewyd is en jou beste gee, is jy reeds ’n kampioen,” het van der Schyff gesê.
Past. Peter Bruce het ook die atlete gemotiveer met ’n vers uit die Bybel en ’n spesiale boodskap van versterking.
“Terwyl die kinders nog so jonk is, kan ons ’n verskil maak,’ het Bruce aan die ouers gesê.
Vir die atlete is dit ook die eerste keer dat hulle gevlieg het. Die byeenkoms het Saterdag 9 September plaasgevind en die atlete het Vrydag gebruik om die dorp te verken en die stadion te besoek.
- Lee-Shay Willemse (23), Velocity- atletiekklub se sekretaris, het by die byeenkoms ’n bronsmedalje in die 4 000 m gekry.