Die klub spog met kampioene.
Velocity-atletiekklub het Sondag 17 Desember sy tweede halfmarathon in die Atlantis industriële gebied aangebied.
Meer as 200 atlete het 06:00 in die 21 km-halfmarathon weggespring. Die span van Nedbank het skoonskip gemaak in die mans- en vroueafdeling met Mthandozo Qhina (1:09:27) en Fortunate Chidzivo (1:21:09) wat met die louere weggestap het.
Die 10 km-wedloop het ook vir opwinding gesorg toe Akhona Makilla, wat nie aan ’n klub behoort nie, die manswedloop gewen het en Anel Terblanche van KPMG, die vroueafdeling. Sowat 115 atlete het aan die wedloop deelgeneem.
Volgens Tashwell Adams, voorsitter van die klub, het die halfmarathon meer atlete as verlede jaar gelok en hoop die klub om dit die grootste byeenkoms van sy soort in Atlantis te maak.
Velocity wat ongeveer ses jaar bestaan, is een van slegs 10 klubs in die Westelike Provinsie wat al vier atletiekkodes aanbied en is beslis besig om sy merk te maak.
Volgens Adams het Velocity jaarliks meer as sewe atlete wat aan die nasionale byeenkomste gaan deelneem en het die klub ook reeds verskeie kampioene opgelewer.
Die klub het ook in 2014 en 2015 ’n Suid-Afrikaanse 100 m- kampioen in Junaid Abrahams opgelewer, Wesley Mekuur het ook vroeër die jaar die Velocity-vlag laat wapper toe hy ’n bronsmedalje in die seuns o. 19-stapwedloop losgeloop het.
Die kersie op die koek vir die klub was Dwayne Minnies se drie goue medaljes by die nasionale laerskole atletiekbyeenkoms in Maart.
“Minnies is nog nie ’n lid van die klub nie, maar die afrigtingspan het hom onder sy vlerk geneem en raak opgewonde oor sy talent,” sê Adams.
Adams vertel dat Minnies, wat maar 12 jaar oud is, se tye in die 100 m beter is as meeste van die senior SA vrouenaellopers en dit maak hulle opgewonde. “Hier wag nog groot dinge op hom.”
Die klub se voorseisoen-voorbereiding is aan die gang en afrigter, Adams en Mario Philander, verwag dat die nuwe seisoen nuwe kampioene gaan oplewer.