’n Vennootskap tussen leerders van Parkview Primêr in Atlantis en Elkanah House, ’n primêre skool in Parklands, kan net die hupstoot wees wat plaaslike leerders nodig het.
Só meen Waldy Kastoor, skoolhoof van Parkview Primêr.
Volgens Kastoor het die idee van ’n vennootskap tussen die twee skole by Arthur Preston, Elkanah House-skoolhoof, ontstaan na ’n werksessie oor integrasie wat hy in Augustus met Parkview se personeel gehou het.
Preston beskryf homself as ’n passievolle 21ste eeuse onderwyser en sê hy het sowat vier jaar gelede begin om sosiale media te gebruik om gesprekke te inisieer, wat spesifiek gemik is op Suid-Afrikaanse onderwysers. Die doel van die gesprekke wat meesal op Twitter plaasvind, is om die rol van tegnologie in die klaskamer en op professionele ontwikkeling te verstaan.
Die uitreikprogram tussen Elkanah House en Parkview het Donderdag 17 Augustus begin met 12 entoesiastiese leerders wat plaaslike leerders tussen graag 4 en 7 met huiswerk gehelp het.
Kastoor sê dit was ’n aangename leerervaring vir beide groepe en almal kon uit dit leer, hoewel daar uitdagings was, soos die taalgrense. Elkanah-leerders word in Engels en Parkview-leerders in Afrikaans onderrig.
“Die selfvertroue van die Elkanah-leerders het die Parkview-leerders beïndruk en is baie aansteeklik, het hy bygevoeg.
Onderhandelinge tussen die twee skole om die program in ’n mentorskapprogram te omskep is tans aan die gang.
“Die idee is dat Parkview se gr. 7-leerders die Elkanah-kampus elke Vrydag tussen 14:00 en 17:00 besoek, waar hulle met huiswerk, lewensvaardighede en motivering bygestaan sal word,” verduidelik Kastoor en sê ook daar sal uitdagings wees soos vervoer en taalkwessies, maar “ons is bereid om die ekstra myl vir ons leerders te stap om vir hulle ’n toekoms te verseker”.