Myron Cruz (25), wat teregstaan weens die dood van Ashwin Saayman van Mamre, het Woensdag 6 Maart in die plaaslike streekhof ontken dat hy die oorledene “doodgesleep het”.
Saayman is oorlede nadat hy vermoedelik aan ’n motor vasgehou is en vir amper 400 m gesleep is. Dié voorval het Maandag 19 Desember 2016 in Mamre se hoofstraat gebeur.
Twee ooggetuies wat saam met Saayman by die stopteken gestaan het, het getuig dat hulle gesien het hoe die verdagte die oorledene aan sy T-hemp vasgehou het terwyl hy vinnig weggetrek het.
Volgens Hayley van Wyk wat Maandag 4 Maart in die hof getuig het, het die oorledene op dié dag in 2016 saam met haar en Raydene Moore vir ’n geleentheid huis toe gewag. Sy het getuig dat die verdagte iets aan hulle gesê het toe hy verbygery het waarna die oorledene hom gevloek het. Van Wyk het aan die hof gesê die verdagte het na hulle teruggekom en ’n argument het ontstaan.
“Ek het die verdagte gesoebat om eerder te ry aangesien die oorledene besope was. Die twee het egter mekaar gegryp en baklei,” het sy verduidelik.
“Die verdagte het in sy motor geklim terwyl hy steeds die oorledene voor die bors vasgehou het,” sê Van Wyk.
Die motor het glo met “ ’n stink spoed” weggetrek met die oorledene wat steeds deur die verdagte vasgehou is. “Ons histeriese geskree het nie gehelp nie en die verdagte het aangery.”
Cruz het in die hof getuig dat Saayman self aan die motor vasgehou het aangesien hy steeds wou baklei. Hy het aan die hof erken dat hulle mekaar gegryp het, maar dat hy “weggery het om verdere konfrontasie te vermy”.
“Ashwin het met ’n mes in sy een hand aan die motor vasgehou en ek het selfs met my elmboog in sy gesig gestamp met die hoop dat hy die motor gaan los,” het Cruz vertel.
Hy sê hy het vinniger gery omdat hy bang was. “Hy het geval en ek het aangery omdat ek nie verder wou stry en baklei nie. “Die volgende dag het ek gehoor hy is oorlede en het dadelik myself aan die polisie gaan oorgee.” Die saak gaan Dinsdag 19 Maart voort.