Die Mamre- Communal Property Association (MCPA) se tyd is verby.
Dít was die mening van sowat 400 inwoners by die terugvoervergadering, wat Dinsdag 13 Augustus in die Mamre-gemeenskapsaal gehou is.
Inwoners het weer teenoor raadslede Cynthia Clayton en Allister Lightburn beklemtoon dat hulle moeg is om jaar ná jaar dieselfde stories te hoor synde hulle hul eie grond het.
In 2013 is 4 000 hektaar grond deur die nasionale regering aan die Mamre-inwoners teruggegee. Dié grond is in 1986 van 500 families ontneem om weens Apartheid plek vir die ontwikkeling van Atlantis te maak. Die MCPA moes gestig word om die grond wettiglik aan die gemeenskap te kon oorhandig.
Die gemeenskap het in die vergadering onderneem om ’n brief aan die nasionale departement van landelike ontwikkeling te laat skryf om die stand van sake te verduidelik.
In die brief, waarvan Weskus Nuus ’n afskrif ontvang het, spreek inwoners hul ongelukkigheid uit oor die houding van die MCPA-bestuurslede teenoor die gemeenskap. Volgens Joe Cooper, lid van die Mamre-inwonersvereniging, het hy persoonlik Woensdag 21 Augustus ’n petisie met 500 handtekeninge van ongelukkige inwoners ingesamel en na die departement se Kaapstad-kantore geneem.
Inwoners het in die vergadering gesê die bestuur van die MCPA se termyn het reeds verstryk en hulle is dus onwettig.
Kennis van die MCPA se jaarvergadering is kort ná die vergadering op ’n sosialemediaplatform geplaas. Volgens die plasing sal die verkiesing en die jaarvergadering Saterdag 30 November gehou word.
Wilfred Solomons Johannes, voorsitter van die MCPA, het teen druktyd nog nie op Weskus Nuus se navrae gereageer nie, hy het wel ontvangs bevestig.