“Ek sit en slaap maar hier in my rolstoel, want die kwaaddoeners het my matras en nuwe beddegoed gesteel.”
Só vertel Mannetjies Booysen (56) van Witsand.
Booysen het opslae op sosiale media gemaak nadat ’n inwoner vertel het van die haglike omstandighede waarin hy woon. Hy is verlam gelaat na ’n beroerte en woon nou sowat twee maande in dié hokkie. Hy het nie eens ’n rolstoel gehad nie en is sedertien deur gesondheidswerkers van een voorsien.
Bure sorg ook dat hy elke dag iets het om te eet en skoon drinkwater kry. Volgens Jacob Goeieman ken hy die oom persoonlik en het hy die oom in ’n gang gekry lê. “Ek het hom saam met my huis toe geneem en in ’n buitekamer laat bly. Dit was seker net ’n week toe is die oom weer vort.”
Volgens Booysen het sy houvrou hulle huis verhuur en het hy geen heenkome gehad nie. Linda Williams, die vriendin sê egter dit is leuens.
“Ons twee het ’n kind saam. Hy het vir ’n rukkie by my in die huis gebly, maar het ons netso gelos en het later saam met ’n ander vrou gewoon op ’n plaas.”
Linda sê Booysen was glad nie saam toe sy aansoek gedoen het om ’n huis nie. Linda het alleen in die huis gewoon en nadat sy talle kere siek geword het, het sy besluit om by haar broer te gaan woon. Sy verhuur nou die huis.
Volgens Linda het haar broer al aangebied dat Booysen ook daar intrek, maar hy wou glo nie.