Verligting na Jomos plek behou in topliga

Jomos Power speel weer volgende seisoen in die ABC Motsepe-liga.


Jomos Power speel weer volgende seisoen in die ABC Motsepe-liga.

Die plaaslike span het Saterdag 29 April vir United van Stellenbosch met 5-1 op die Saxonsea-sportveld geklop.

Die Blou Duiwels se verdediging was maar wankelrig gedurende die eerste 5 minute en United het ’n doel behaal.

Aanval na aanval is geloods, maar Jomos kon nie verdoel nie.

Doelvraat Wayne Hare het sy lies beseer en Romano Kotze moes hom in die 30ste minuut vervang.

Die laaste 15 minute van die eerste helfte is teen ’n vinnige pas gespeel en die Atlantis-span het kort voor rustyd die gelykmakende doel, deur Zandre Booysen, behaal met behulp van jong Valentino Thomas, wat ook speler van die wedstryd was.

Albei spanne het na rustyd positief begin, maar die tweede helfte het beslis aan die Blou Duiwels behoort.

In die 7de minuut van die tweede helfte het Eldright Brandt nog ’n doel aangeteken, Booysen het ná 60 minute se spel sy tweede doel en Jomos Power se derde behaal.

Die hele Jomos-span het as eenheid saamgespeel en die plaasvervanger, Kotze, het ook ’n doel aangeteken na 79 minute se spel.

Kotze het egter minute daarna ’n ernstige enkelbesering opgedoen en is vervang.

Booysen, ’n jong doelskieter, het ’n driekuns behaal en die plaasvervanger, Cornel Tieties, het in die doodsnikke sy span se vyfde doel behaal.
S
Saterdag 5 Mei het Jomos Power hul spelpeil behou toe hulle gelykop teen Ajax Cape Town met een doel elk, op Ikamwapark, gespeel het. Zandre Booysen het die Blou Duiwels se doel in die eerste helfte behaal.

Ajax het laat in die tweede helfte hulle doel behaal.

Die bestuurspan van Jomos Power was verlig en het ’n paar benoude oom-blikke gehad tot hulle die ander uitslae ontvang het.

Met dié resultate het Lonn van Graan se span elfde op die punteleer geëindig, wat hulle in staat stel om weer volgende seisoen aan die topliga deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.