Johnny Magic en Zane Gevaarlik is twee talentvolle sokkerspelers wat groot drome het om eendag op Old Traford sokker te speel. Magic word aan een van die dorp se gevreesde leiers, Mr. Money, voorgestel en dié laat Magic die eerste keer kennis maak met ’n vuurwapen, waarvoor Magic ’n liefde ontwikkel. Geld is skielik nie ’n probleem vir Magic nie. Sy Ma, Aunty Maggy, huil haar snags aan die slaap. Ná die opdrag twyfel Mr. Money nie meer in sy soldate nie.
Lees nou verder. . .
Terwyl dit daagliks soos Guy Fawkes klink soos die skote klap, het Mr. Money nie ’n saak met die res van die wêreld nie. Bendeleiers, bendelede en hul familielede word voor die voet afgemaai. En terwyl die polisie hul hande vol het met die skieters, loop Magic en Gevaarlik soos manne wat van niks weet nie rond.
Sokker is gewis nie meer deel van hul lewe nie, want Mr. Money is nou hul alfa en omega. Aunty Maggy het die bendeleier trompop geloop dat hy haar kind se lewe verwoes het, maar hy het net sy skouers opgetrek.
Aunty Maggy en Oom Zaal het soos kluisenaars begin lewe – te bang om voet op straat te sit oor die stories oor hul seun wat die ronde doen.
Die polisie het die twee seuns gereeld ingeneem in verband met misdade, maar daar was net nooit bewyse teen hulle nie. “My bru, hoeveel het ons nou al vedala,” vra Magic terwyl hulle vir die volgende hit voorberei.
“Ek het lankal opgehou tel,” sê Gevaarlik. “Ons gaan vir eers laag lê ná die job, want die boere raak lastig.”
Die polisiekaptein Vonnie weet die twee is vir baie van die moorde verantwoordelik, maar weet ook dit was ’n opdrag. Hy weet dit is dié persoon wat hulle moet vang, en dít gaan moeilik wees.
“As iemand net kan praat of een van die twee op ’n toneel plaas, is ons koppe deur,” sê Vonnie vir sy span.
Magic is ietwat senuagtig toe hy en Gevaarlik in die motor klim om Dimpels te gaan afmaai.
Gevaarlik merk op sy spanmaat is gespanne en wil weet wat fout is,
“Kom laat ons die job gaan finish, bru. Ek wil net eers laag lê sodat die storm kan bedaar. Ek het my ma gesien en sy lyk nie goed nie,” vertel Magic.
Dimpels se liggaam met verskeie kopskote word later deur kapt. Vonnie toegegooi. “Dis reg dat bendelede mekaar uitwis,” dink kapt Vonnie.
“Die wetteloosheid stop egter vanaand,” sê hy hardop aan sy span.
Die tannie wat langs Dimpels woon, druk ongemerk ’n nota in Vonnie se hand en verdwyn tussen die nuuskieriges.
Vonnie lees die nota oor en oor en roep sy span bymekaar.
“Manne, vanaand het die skieters iets vir ons gelos.” Die speurders kyk mekaar verbaas aan. “Bly julle hier en wag vir forensies; ek moet iemand gaan sien,” sê Vonnie.
Dimpels se buurvrou staan en suig die een sigaret na die ander by die polisiekantoor. Niemand kan haar hier sien nie, want sy weet dan is dit tickets met haar. Vonnie stop voor haar en haastig spring sy in die kar. “Luister, Kaptein, ek het twee jongmanne met Dimpels sien praat voor die skietery. Een is die klong wat so kan toor met ’n sokkerbal. Ek’t sy foto in die koerant gesien en dit was beslis hy.” Sy haal ’n uitknipsel uit haar voorskoot se sak en gee dit aan Vonnie.
. Hoofstuk 6: Is Magic se doppie geklink?