’n Vermeende lid van die 28 Bendegroep is Woensdag 19 Julie voor sy hek in die Heathfield-woonstelle doodgeskiet terwyl hy koffie gedrink het.
Die 30-jarige Randall van Wyk oftewel, Bal soos hy bekend was, is volgens ’n polisiebron twee keer getref en het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Van Wyk is in die kant van sy gesig en in die bors getref.
Volgens ’n buurvrou, wat anoniem wil bly, het alles baie vinnig gebeur.
“Die een oomblik staan Bal nog en koffie drink en die volgende oomblik trek die koppie koffie deur die lug,” sê sy.
”Ons het net die jongmans sien aangehardloop kom en alles was binne sekondes verby en die verdagtes het tussen die woonstelle verdwyn,” voeg die ooggetuie by.
Dinsdag 18 Julie, is ’n 12-jarige kind in die Dura-woonstelle in die been geskiet terwyl hy en vriende sokker gespeel het. Volgens lt. kol. Adolf Jonker, speurhoof van Atlantis-polisie, ondersoek hulle ’n klag van poging tot moord en sal ’n verdagte binnekort in hegtenis geneem word.
Die Atlantis-polisie vra die gemeenskap om hulle te kontak by 021 571 8600 met enige inligting.