Vermeende kinderdief bly in aanhouding

’n Ma van Witsand kon ’n sug van verligting gee nadat sy en haar viermaande oue babadogter Maandag 27 Maart na drie dae herenig is.


’n Ma van Witsand kon ’n sug van verligting gee nadat sy en haar viermaande oue babadogter Maandag 27 Maart na drie dae herenig is.

Liezel Matthys (32), sê sy het die Maandagaand skuins na 18:00 ’n oproep van die polisie gekry om te sê haar kind is veilig en ongedeerd.

Matthys vertel sy moes Saterdag 25 Maart gaan werk en het niemand gehad om na die kind om te sien nie.

“My vriendin het aangebied om my uit te help. Toe ek die aand by die huis kom was altwee weg,” vertel Matthys.

Die vermeende verdagte, Lucrecia Julius alias Lee-Ann Swarts, en Matthys het vermoedelik albei dwelms gebruik. Maar Matthys sê sy gebruik sedert haar dogter se geboorte glad nie meer dwelms nie. “Ek het my lewe verander toe ek my kind vir die eerste keer vashou,” sê die ma van vier.

Eva Bezuidenhoudt, Matthys se ma, sê sy kan met trots sê haar kind gebruik nie meer dwelms nie, nadat sy en haar gemeentelede baie hard gebid het.

Sy het aanvanklik nie onraad vermoed nie, maar toe dit later word het sy besef Julius kom nie terug nie, en het dadelik die polisie ontbied. Polisiebeamptes het na die kind begin soek en kennisgewings uitgestuur.

Volgens ’n polisiebron wou die vermeende kinderdief die kleintjie die Saterdag glo in ’n vullisdrom in Du Noon gooi, toe inwoners haar gesien het en haar te lyf wou gaan. Die polisie is ontbied en sy het aan hulle gesê dis haar kind en sy wou net iets gaan soek om te eet.

Die polisie het maatskaplike werkers gekontak en die “ma” en kind is na ’n plek van veiligheid in Mitchell’s Plain geneem.

’n Polisiebeampte van Du Noon het die baba se foto by die Atlantis-polisiestasie gesien en twee en twee bymekaar gesit.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoer-der, het bevestig Julius en die baba is in ’n plek van veilig-heid in Mitchell’s Plain gevind.

Julius is aangekla van kinderdiefstal en het Donderdag 30 Maart in die Atlantis-landdroshof verskyn. Sy het haar borgtog aansoek laat vaar nadat polisiebeamptes uitgevind het die adres, wat sy voorsien het, bestaan nie.

Julius bly in aanhouding tot Vrydag 5 Mei, wanneer sy weer in die landdroshof sal verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.