Vermeende moordverdagte sak by hof inmekaar

’n Vermeende lid van die G-unit-bende wat tans in die hof verskyn vir die moord op ’n vermeende opponent-bendelid, het Donderdag 14 Februarie in die hof inmekaargesak.


’n Vermeende lid van die G-unit-bende wat tans in die hof verskyn vir die moord op ’n vermeende opponent-bendelid, het Donderdag 14 Februarie in die hof inmekaargesak.

Chestwell Essop se siektetoestand het reeds die Maandag aan die lig gekom toe hy nie by die Wes-Kaapse hooggeregshof opgedaag het nie. Hy, Gerrit Franse, Michael Adams en Aldrick Adams staan tereg vir die moord op Clint Smith. Die staat beweer hulle het Smith 245 keer in sy motor gesteek. Sy halfkaal lyk is 22 Maart 2013 in Saxonwold langs die Ou Mamre-Darling-pad gekry.

Essop se prokureur, Johan Solomons, het die hof meegedeel sy kliënt is te siek vir die hof. Solomons het ook ’n siekbrief ingehandig. Regter Robert Henney het egter opdrag gegee dat Essop gaan haal moet word. Essop het met ’n kierie by die hof opgedaag. Hy is toe gewaarsku om die Woensdag in die hof te wees. Woensdag was hy weer afwesig en die hof is meegedeel hy is in die hospitaal.

Henney het weer opdrag gegee dat hy gaan haal moet word. Natalie Brown, Essop se suster­, het gesê die polisie se bende-eenheid het hom uit die hospitaal probeer haal.

“Daar was nog mense by hom. Hulle is in ’n kamer geboender en my broer is siek-siek gevat.” Volgens ’n siekbrief van die hospitaal waar hy opgeneem was, moes hy tot 13 Februarie in die hospitaal wees vir behandeling. Essop lei glo aan ’n maagaandoening wat deur ’n koeëlwond veroorsaak is.

Ná ’n opdrag van die hof het ’n ander dokter by die hospitaal Essop ondersoek en bevind hy is stabiel en gesond genoeg om ontslaan te word. Volgens die tweede dokter se nota moet Essop terugkeer vir ’n ondersoek van die maag met ’n gastroskoop. Brown het gesê haar broer het voor die hofverrig­tinge aangedui hy voel siek omdat hy nog nie sy pille gedrink het nie.

Die medikasie is glo agtergelaat by die hospitaal waar hy in hegtenis geneem is. Henney het toe polisielede gevra om Essop se pille by die hospitaal te gaan haal. Die hofverrigtinge is weer onderbreek toe Essop omgekap het. Sy medebeskuldigdes en hofgangers het hom water ingegee totdat hy weer bygekom het. Hy is met ’n ambulans van die hof na ’n hospitaal geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.