Vermeende verkragter vas

’n Sekerheidswag van Witsand wat twee klagte van verkragting en een van po­ging tot verkragting in die gesig staar, sal vandeesweek in die hof verskyn vir sy borgtogaansoek.


’n Sekerheidswag van Witsand wat twee klagte van verkragting en een van po­ging tot verkragting in die gesig staar, sal vandeesweek in die hof verskyn vir sy borgtogaansoek.

Die 27-jarige verdagte word verdink van die verkragting van twee van sy kollegas. Hy het hulle glo verkrag terwyl hulle nagskof gewerk het.

Dié saak is Dinsdag 24 Junie tot Donderdag 2 Augustus uitgestel.

In ’n afsonderlike voorval het die sekerheidsbeampte glo probeer om ’n derde kollega te verkrag.

Volgens een van sy vermeen­de slagoffers werk hulle almal vir verskillende sekerheidsmaatskappye, maar wou nie veel meer uitlaat nie.

’n Ingeligte bron het aan Weskus Nuus gesê die verdagte het glo sy slagoffers “mooi uitgekies”.

Die bron, wat anoniem wou bly, vertel die verdagte het presies geweet wanneer die slagoffers op patrollies gaan en het dán toegeslaan.

In die eerste vermeende voorval, Dinsdag 26 Junie, het hy die vroulike wag betrap wat omstreeks 02:00 patrollie by ’n nywerheidsperseel gedoen het.

Die verdagte het glo haar han­de en voete met die slag­offer se eie skoenveters vasge­bind waarna hy haar verkrag het. Die verdagte het glo ’n week later by ’n ander perseel, met dieselfde modus operandi, weer toegeslaan.

Die twee slagoffers is onder­skeidelik 28 en 31 jaar oud en sê die verdagte het ’n masker gedra.

Die verdagte, wat presies ’n week later vir die derde keer sou toeslaan, was egter verras toe sy vermeende slagoffer sy masker afgepluk het.

Sy het daarna op vlug geslaan. Sy het glo die verdagte herken as ’n kollega wat by ’n nabye fabriek as veiligheidswag gewerk het.

Volgens die bron is ’n ver­dag­te vir ondervraging geneem waarna hy ’n bekentenis afgelê.

Wyksraadslid Barbara Rass, ook ’n kampvegter vir die regte van kinders en vroue in Atlantis, sê die man is ’n reeksverkragter.

“Ons weet nie hoeveel vroue almal slagoffers sou gewees het as dié een nie dapper genoeg was om sy masker af te ruk nie,” meen sy.

Rass sê verskeie vroue sal op die dag van die verdagte se borgtogaansoek in swart by die Atlantis-landdroshof opruk en versoek dat die verdagte in aanhouding moet bly.

You need to be Logged In to leave a comment.