‘Verplaasde lêer’ laat polisieman dalk vryloop

’n Polisiebeampte van Atlantis gaan dalk skotvry loop nadat hy na bewering in 2015 ’n man se arm en vinger gebreek het.


’n Polisiebeampte van Atlantis gaan dalk skotvry loop nadat hy na bewering in 2015 ’n man se arm en vinger gebreek het.

Volgens klaer Lionel Pharoah (47), het die polisiebeampte hom in November 2015 erg aangerand.

Pharoah vertel hy is een aand deur die polisieman gestop en vir dagga deursoek. “Ek het slegs ’n tabakpil op my gehad. Die polisieman het my opgetel en hard teen die grond gegooi en met die val het ek op my hand geval en gehoor hoe dit kraak. Terwyl ek van pyn gekreun het, het hy op my ander hand getrap en só my vinger gebreek.

“Ek moes selle toe, maar by die stasie het hy gesien dis ’n tabakpil en het my net by die hospitaal gaan aflaai,” vertel ’n steeds getraumatiseerde Pharoah.

Die vermeende aanrander kan dalk nou skotvry wegloop, want personeel by die Wesfleur-hospitaal kan nie die mediese verslag en Pharoah se hospitaallêer opspoor nie.

“’n Nuwe lêer is oopgemaak, maar dit beteken niks, want die mediese verslag is nie daarin nie en ek het dit nodig sodat die polisieman kan boet vir sy dade,” sê hy.

Volgens die klaer het hy die saak reeds in 2015 aan die polisie gerapporteer, maar was gesê hy moet terugkom wanneer die moontlike operasies wat hy moes ondergaan weens skade na die aanranding, eers afgehandel word en daar bepaal kan word wat die klagte moet wees.

“Met my hand wat heel skeef is en ’n vinger wat nie kan buig nie, het ek vroeër vanjaar die saak gaan maak,” vertel Pharoah.

Kapt. Cyril Dicks, Atlantis-polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag van ernstige aanranding word teen die polisiebeampte ondersoek.

Volgens Monique Johnstone woordvoerder vir die Wes-Kaapse department van gesondheid, is die hospitaal besig om hulle stelsel op te gradeer, “wat heelwat ontwrigtings veroorsaak het”.

Sy meen ook die lêer is heel moontlik nie weg nie en dalk net in ’n ander afdeling ingedeel aangesien daar vier afdelings in die hospitaal is. Pharoah meen egter dit is onsin, want die lêer is reeds maande weg.

You need to be Logged In to leave a comment.